Skrifture
Leer en Verbonde 46


Afdeling 46

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet aan die Kerk, te Kirtland, Ohio, 8 Maart 1831. Op hierdie vroeë stadium van die Kerk, het ’n eenvormige patroon vir die leiding van kerkdienste nog nie ontwikkel nie. Nietemin het die gebruik om slegs lede en ernstige ondersoekers toe te laat by nagmaaldienste en ander byeenkomste van die Kerk redelik algemeen geword. Hierdie openbaring druk die wil van die Here uit ten opsigte van die beheer en leiding van vergaderings en sy aanbeveling met betrekking tot die soeke na en die onderskeiding van die gawes van die Gees.

1–2, Ouderlinge moet vergaderings lei soos gelei deur die Heilige Gees; 3–6, Soekers na waarheid moet nie uitgesluit word uit nagmaaldienste nie; 7–12, Vra vir God en soek die gawes van die Gees; 13–26, Sommige van hierdie gawes word gelys; 27–33, Kerkleiers word die mag gegee om die gawes van die Gees te onderskei.

1 Slaan ag, o julle volk van my kerk; want voorwaar Ek sê vir julle dat hierdie dinge gespreek is tot julle vir julle voordeel en lering.

2 Maar nieteenstaande daardie dinge wat geskrywe is, is dit altyd gegee aan die ouderlinge van my kerk, vanaf die begin, en sal altyd wees, om alle vergaderings te lei soos hulle gerig en gelei word deur die Heilige Gees.

3 Nietemin, julle word gebied om nooit enigeen uit te werp van julle openbare vergaderings wat gehou word voor die wêreld nie.

4 Julle word ook gebied om niemand wat aan die kerk behoort uit te werp van julle nagmaaldienste nie; nietemin, indien iemand oortree het, laat hom nie gebruik nie tot hy versoening doen.

5 En verder, Ek sê vir julle, julle sal niemand uit julle nagmaaldienste uitwerp wat opreg soek na die koninkryk nie—Ek spreek dit aangaande diegene wat nie van die kerk is nie.

6 En verder, Ek sê vir julle, aangaande julle bevestigingsdienste, dat as daar iemand is wat nie van die kerk is nie, wat opreg soek na die koninkryk, sal julle hulle nie uitwerp nie.

7 Maar julle word gebied in alle dinge om vir God te vra, wat mildelik gee; en dit wat die Gees aan julle getuig, net so wil Ek hê moet julle doen in alle heiligheid van hart, en opreg wandel voor My, bepeinsend oor die uiteinde van julle heil, en alle dinge doen met gebed en danksegging, sodat julle nie verlei mag word deur bose geeste nie, of die leringe van duiwels nie, of die gebooie van mense; want sommige is van mense, en andere van duiwels.

8 Daarom, waak daarteen dat julle nie bedrieg word nie; en sodat julle nie bedrieg mag word nie, soek julle opreg na die beste gawes, en onthou altyd waarom hulle gegee word;

9 Want voorwaar Ek sê vir julle, hulle word gegee tot die voordeel van diegene wat My liefhet en al my gebooie onderhou, en hom wat poog om so te doen; sodat almal mag voordeel kry wat soek of wat van My vra, wat nie vir ’n teken vra sodat hulle hul luste bevredig nie.

10 En verder, voorwaar Ek sê vir julle, Ek wil dat julle altyd moet onthou, en altyd in gedagte hou wat daardie gawes is, wat gegee word aan die kerk.

11 Want aan almal word nie elke gawe gegee nie; want daar is baie gawes, en aan elke mens word ’n gawe gegee deur die Gees van God.

12 Aan sommiges word een gegee, en aan sommiges word ’n ander gegee, sodat almal daarby mag baat vind.

13 Aan sommiges word dit deur die Heilige Gees gegee om te weet dat Jesus Christus die Seun van God is, en dat Hy gekruisig is vir die sondes van die wêreld.

14 Aan andere word dit gegee om te glo in hulle woorde, sodat hulle ook die ewige lewe mag hê as hulle getrou bly.

15 En verder, aan sommiges word dit deur die Heilige Gees gegee om die verskille van bestuur te ken, soos dit dieselfde Here mag behaag, volgens die Here se wil, en paslik is vir sy barmhartighede volgens die toestande van die kinders van mense.

16 En verder, dit word gegee deur die Heilige Gees aan sommiges om die verskeidenheid van werkinge te ken, of hulle van God is, sodat die openbarings van die Gees gegee mag word aan elke mens tot sy voordeel.

17 En verder, voorwaar Ek sê vir julle, aan sommiges word dit gegee, deur die Gees van God, die woord van wysheid.

18 Aan ’n ander word gegee die woord van kennis, sodat almal geleer mag word om wys te wees en om kennis te hê.

19 En verder, aan sommiges word dit gegee om geloof te hê om genees te word.

20 En aan andere word dit gegee om geloof te hê om te genees.

21 En verder, aan sommige word gegee om wonderwerke te verrig;

22 En aan andere word dit gegee om te profeteer;

23 En aan andere die onderskeiding van geeste.

24 En verder, dit word aan sommiges gegee om in tale te spreek;

25 En aan ’n ander word gegee die uitleg van tale.

26 En al hierdie gawes kom van God, tot die voordeel van al die kinders van God.

27 En aan die biskop van die kerk, en aan diegene wat God sal aanstel en ordineer om te waak oor die kerk en om ouderlinge te wees vir die kerk, moet dit aan hulle gegee word om al daardie gawes te onderskei sodat daar nie onder julle iemand sal wees wat voorgee en tog nie van God is nie.

28 En dit sal gebeur dat hy wat vra in die Gees, sal ontvang in die Gees;

29 Sodat aan sommiges daar mag gegee word om al daardie gawes te besit, sodat daar ’n hoof mag wees, sodat elke lid daardeur mag baat.

30 Hy wat vra in die Gees, vra ooreenkomstig die wil van God; daarom word dit gedoen net soos hy vra.

31 En verder, Ek sê vir julle, alle dinge moet gedoen word in die Naam van Christus, wat julle ook al doen in die Gees;

32 En julle moet dank betuig teenoor God in die Gees vir welke seëninge waarmee julle ook al geseën word.

33 En julle moet deug en heiligheid voortdurend voor my beoefen. Dit is so. Amen.