Skrifture
Leer en Verbonde 52


Afdeling 52

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet aan die ouderlinge van die Kerk, te Kirtland, Ohio, 6 Junie 1831. ’n Konferensie was gehou te Kirtland, wat op die 3de begin en op die 6de afgesluit het. Tydens hierdie konferensie is die eerste spesifieke ordinerings tot die amp van hoëpriester gedoen, en sekere manifestasies van valse en misleidende geeste is onderskei en bestraf.

1–2, Die volgende konferensie is geskeduleer om in Missouri gehou te word; 3–8, Benoeming van sekere ouderlinge wat saam moet reis, word gemaak; 9–11, Die ouderlinge moet onderrig wat die apostels en profete geskryf het; 12–21, Diegene wat deur die Gees verlig is bring vrugte voort van lof en wysheid; 22–44, Verskeie ouderlinge word benoem om uit te gaan en die evangelie te preek terwyl op reis na Missouri vir die konferensie.

1 Kyk, so sê die Here aan die ouderlinge wat Hy geroep en gekies het in hierdie laaste dae, deur die stem van sy Gees—

2 En sê: Ek, die Here, sal aan julle bekendmaak wat Ek wil hê dat julle moet doen vanaf hierdie tyd tot die volgende konferensie, wat gehou sal word in Missouri, op die land wat Ek sal toewy aan my volk, wat ’n oorblyfsel is van Jakob, en diegene wat erfgename is volgens die verbond.

3 Daarom, voorwaar, Ek sê vir julle, laat my diensknegte Joseph Smith, Jr., en Sidney Rigdon hulle reis so gou as moontlik onderneem so gou as wat voorbereidings getref kan word om hulle huise te verlaat, en te reis na die land Missouri.

4 En in soverre hulle getrou is aan My, sal dit aan hulle bekendgemaak word wat hulle sal doen;

5 En dit sal ook, in soverre hulle getrou is, aan hulle bekendgemaak word die land van julle erfenis.

6 En in soverre hulle nie getrou is nie, sal hulle afgesny word, net soos Ek wil, soos Ek goeddink.

7 En verder, voorwaar, Ek sê vir julle, laat my dienskneg Lyman Wight en my dienskneg John Corrill hulle reis spoedig onderneem.

8 En ook my dienskneg John Murdock, en my dienskneg Hyrum Smith, hulle reis onderneem na dieselfde plek oor Detroit.

9 En laat hulle daarvandaan reis en die woord preek onderweg, en geen ander dinge sê as dit wat die apostels en profete geskryf het nie, en dit wat hulle onderrig word deur die Trooster deur die gebed van geloof.

10 Laat hulle twee-twee gaan, en laat hulle so preek onderweg in elke gemeente, en doop deur water, en die oplegging van hande aan die waterkant.

11 Want so sê die Here. Ek sal my werk verkort in regverdigheid, want die dae kom dat Ek oordeel sal uitstuur ter oorwinning.

12 En laat my dienskneg Lyman Wight waaksaam wees, want Satan begeer om hom te sif soos kaf.

13 En kyk, hy wat getrou is sal heerser gemaak word oor vele dinge.

14 En verder, Ek sal aan julle ’n voorbeeld gee in alle dinge, sodat julle nie bedrieg mag word nie; want Satan gaan rond in die land, en hy gaan uit en bedrieg die nasies—

15 Daarom, hy wat bid, wie se gees berouvol is, hy word deur My aanvaar as hy my ordinansies gehoorsaam.

16 Hy wat spreek, wie se gees berouvol is, wie se taal sagmoedig is en opbou, hy is van God as hy my ordinansies gehoorsaam.

17 En verder, hy wat bewe onder my mag, sal sterk gemaak word, en sal vrugte voortbring van lof en wysheid, volgens die openbarings en waarhede wat Ek julle gegee het.

18 En verder, hy wat oorwin word en nie vrugte voortbring nie, en wel volgens hierdie patroon, is nie van My nie.

19 Daarom, deur hierdie patroon sal julle die geeste ken in alle gevalle onder die ganse hemele.

20 En die dae het gekom; volgens die mense se geloof sal dit aan hulle gedoen word.

21 Kyk, hierdie gebod is gegee aan al die ouderlinge wat Ek gekies het.

22 En verder, voorwaar Ek sê vir julle, laat my dienskneg Thomas B. Marsh en my dienskneg Ezra Thayre ook hulle reis onderneem, en die woord onderweg preek aan hierdie selfde land.

23 En verder, laat my dienskneg Isaac Morley en my dienskneg Ezra Booth hulle reis onderneem, en ook die woord onderweg preek aan hierdie selfde land.

24 En verder, laat my diensknegte Edward Partridge en Martin Harris hulle reis onderneem saam met my diensknegte Sidney Rigdon en Joseph Smith, Jr.

25 Laat my dienskneg David Whitmer en my dienskneg Harvey Whitlock ook hulle reis onderneem, en onderweg preek aan hierdie selfde land.

26 Laat my dienskneg Parley P. Pratt en Orson Pratt hulle reis onderneem, en onderweg preek, ja, aan hierdie selfde land.

27 En laat my diensknegte Solomon Hancock en Simeon Carter ook hulle reis onderneem na hierdie selfde land, en onderweg preek.

28 Laat my diensknegte Edson Fuller en Jacob Scott ook hulle reis onderneem.

29 Laat my diensknegte Levi W. Hancock en Zebedee Coltrin ook hulle reis onderneem.

30 Laat my diensknegte Reynolds Cahoon en Samuel H. Smith ook hulle reis onderneem.

31 Laat my diensknegte Wheeler Baldwin en William Carter ook hulle reis onderneem.

32 En laat my diensknegte Newel Knight en Selah J. Griffin albei geordineer word, en ook hulle reis onderneem.

33 Ja, voorwaar Ek sê, laat al hierdie hulle reis onderneem na een plek, op hul verskeie weë, en een man sal nie op ’n ander se fondament bou nie, nóg reis op ’n ander se spoor.

34 Hy wat getrou is, hy sal beskerm word en geseën word met veel vrug.

35 En verder, Ek sê vir julle, laat my diensknegte Joseph Wakefield en Solomon Humphrey hulle reis onderneem na die oostelike streke.

36 Laat hulle arbei met hulle families, en niks anders verklaar behalwe die profete en apostels nie, dit wat hulle gesien en gehoor het en vir seker glo, dat die profesieë vervul mag word.

37 As gevolg van oortreding, laat dit wat gegee is aan Heman Basset van hom geneem word, en geplaas word op die hoof van Simonds Ryder.

38 En verder, voorwaar, Ek sê vir julle, laat Jared Carter tot priester geordineer word, en ook George James tot priester geordineer word.

39 Laat die oorblyfsel van die ouderlinge waak oor die kerke, en die woord verklaar in die streke rondom hulle; en laat hulle arbei met hul eie hande sodat daar geen afgodery nóg boosheid beoefen word.

40 En onthou in alle dinge die armes en die behoeftiges, die siekes en die geteisterdes, want hy wat nie hierdie dinge doen nie, hy is nie my dissipel nie.

41 En verder, laat my diensknegte Joseph Smith, Jr., en Sidney Rigdon en Edward Partridge saam met hulle ’n aanbeveling neem van die kerk. En laat daar ook een verkry word vir my dienskneg Oliver Cowdery.

42 En dus, net soos Ek gesê het, as julle getrou is, sal julle julself versamel om julle te verbly in die land Missouri, wat die land is van jul erfenis, wat nou die land is van jul vyande.

43 Maar, kyk, Ek, die Here, sal die stad verhaas in sy tyd, en Ek sal die getroues bekroon met blydskap en vreugde.

44 Kyk, Ek is Jesus Christus, die Seun van God, en Ek sal hulle verhef op die laaste dag. Dit is so. Amen.