Skrifture
Leer en Verbonde 93


Afdeling 93

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet, te Kirtland, Ohio, 6 Mei 1833.

1–5, Almal wat getrou is sal die Here sien; 6–18, Johannes het getuienis gelewer dat die Seun van God van genade tot genade gevorder het totdat Hy ’n volheid van die heerlikheid van die Vader ontvang het; 19–20, Getroue mense, wat van genade tot genade voortgaan, sal ook van sy volheid ontvang; 21–22, Diegene wat deur Christus gebore is, is die Kerk van die Eersgeborene; 23–28, Christus het ’n volheid van alle waarheid ontvang en die mens kan deur gehoorsaamheid dit ook ontvang; 29–32, Die mens was in die begin met God; 33–35, Die elemente is ewig, en die mens mag ’n volheid van vreugde ontvang in die Opstanding; 36–37, Die heerlikheid van God is intelligensie; 38–40, Kinders is onskuldig voor God vanweë die verlossing van Christus; 41–53, Die leidinggewende broers word gebied om hulle families in orde te bring.

1 Voorwaar, so sê die Here: Dit sal gebeur dat elke siel wat sy sondes versaak en na My kom, en my Naam aanroep, en my stem gehoorsaam, en my gebooie onderhou, my aangesig sal sien en weet dat Ek is;

2 En dat Ek die ware lig is wat elke mens wat die wêreld binnekom, verlig;

3 En dat Ek in die Vader is, en die Vader in My, en die Vader en Ek is een—

4 Die Vader omdat hy my van sy volheid gegee het, en die Seun omdat Ek in die wêreld was en vlees my tabernakel gemaak het, en onder die seuns van mense gewoon het.

5 Ek was in die wêreld en het ontvang van my Vader, en sy werke is duidelik geopenbaar.

6 En Johannes het gesien en getuienis gelewer van die volheid van my heerlikheid, en die volheid van Johannes se verslag moet hierna geopenbaar word.

7 En hy het getuienis gelewer, en gesê: Ek het sy heerlikheid gesien, dat Hy in die begin was, voor die wêreld was;

8 Daarom, in die begin was die Woord, want Hy was die Woord, naamlik die boodskapper van heil—

9 Die lig en die Verlosser van die wêreld; die Gees van waarheid, wat in die wêreld gekom het, omdat die wêreld deur hom gemaak is, en in Hom was die lewe en die lig van die mens.

10 Die wêrelde is deur Hom gemaak; die mense is deur hom gemaak; alle dinge is deur Hom gemaak, en deur Hom, en van Hom.

11 En ek, Johannes, lewer getuienis dat Ek sy heerlikheid aanskou het, soos die heerlikheid van die Eniggeborene van die Vader, vol genade en waarheid, naamlik die Gees van waarheid, wat gekom en in die vlees gewoon het, en onder ons gewoon het.

12 En ek, Johannes, het gesien dat Hy aanvanklik nie van die volheid ontvang het nie, maar genade op genade ontvang het;

13 En Hy het aanvanklik nie die volheid ontvang nie, maar het volgehou van genade tot genade, totdat Hy ’n volheid ontvang het;

14 En daarom is Hy die Seun van God genoem, omdat Hy aanvanklik nie van die volheid ontvang het nie.

15 En ek, Johannes, lewer getuienis, en sien, die hemele is geopen, en die Heilige Gees het op Hom neergedaal in die vorm van ’n duif, en op Hom gaan sit, en daar het ’n stem uit die hemel gekom wat sê: Dit is my geliefde Seun.

16 En ek, Johannes, lewer getuienis dat Hy ’n volheid van die heerlikheid ontvang het van die Vader;

17 En hy het alle mag ontvang, beide in die hemel en op die aarde, en die heerlikheid van die Vader was met Hom, want Hy het in Hom gewoon.

18 En dit sal gebeur, dat indien julle getrou is, sal julle die volheid van die verslag van Johannes ontvang.

19 Ek gee aan julle hierdie woorde sodat julle mag begryp en weet hoe om te aanbid, en weet wat julle aanbid, sodat julle tot die Vader mag kom in my Naam, en op die bepaalde tyd van sy volheid ontvang.

20 Want indien julle my gebooie onderhou, sal julle van sy volheid ontvang, en verheerlik word in My soos Ek is in die Vader; daarom, Ek sê vir julle, julle sal genade op genade ontvang.

21 En nou, voorwaar Ek sê vir julle, Ek was in die begin met die Vader, en is die Eersgeborene;

22 En al diegene wat deur My gebore word, is deelgenote van die heerlikheid van dieselfde, en is die kerk van die Eersgeborene.

23 Julle was ook in die begin met die Vader; dit wat Gees is, naamlik die Gees van waarheid;

24 En waarheid is kennis van dinge soos hulle is, en soos hulle was, en soos hulle sal wees;

25 En wat ook al meer of minder is as dit, is die gees van daardie bose een wat ’n leuenaar was vanaf die begin.

26 Die Gees van waarheid is van God. Ek is die Gees van waarheid, en Johannes het getuienis gelewer van My, en gesê: Hy het ’n volheid ontvang van waarheid, ja, naamlik van alle waarheid;

27 En geen mens ontvang ’n volheid tensy hy sy gebooie onderhou nie.

28 Hy wat sy gebooie onderhou, ontvang waarheid en lig, totdat hy verheerlik is in waarheid en alle dinge weet.

29 Die mens was ook in die begin met God. Intelligensie, of die lig van waarheid, is nie geskape of gemaak nie, nóg kan dit inderdaad.

30 Alle waarheid is onafhanklik in daardie sfeer waarin God dit geplaas het, om selfstandig op te tree, so ook alle intelligensie; anders is daar geen bestaan nie.

31 Kyk, hierin is die handelingsmag van die mens, en hierin is die veroordeling van die mens; omdat dit wat vanaf die begin was, duidelik geopenbaar is aan hulle, en hulle ontvang nie die lig nie.

32 En elkeen wie se gees nie die lig ontvang nie is onder veroordeling.

33 Want die mens is gees. Die elemente is ewig, en gees en element, onafskeidbaar verbonde, ontvang ’n volheid van vreugde;

34 En wanneer geskei, kan die mens nie ’n volheid van vreugde ontvang nie.

35 Die elemente is die tabernakel van God; ja die mens is die tabernakel van God, naamlik tempels; en welke tempel ook al verontreinig word, sal God daardie tempel vernietig.

36 Die heerlikheid van God is intelligensie, of, met ander woorde, lig en waarheid.

37 Lig en waarheid versaak daardie bose een.

38 Elke gees van die mens was onskuldig in die begin; en omdat God die mens gered het van die val, het die mens weer, in hul kinderlike toestand, onskuldig voor God geword.

39 En daardie bose een kom en neem die lig en waarheid weg, deur ongehoorsaamheid, van die kinders van mense, en vanweë die oorlewerings van hulle vaders.

40 Maar Ek het julle gebied om julle kinders groot te maak in lig en waarheid.

41 Maar voorwaar Ek sê vir jou, my dienskneg Frederick G. Williams, jy het voortgegaan onder hierdie veroordeling;

42 Jy het nie jou kinders lig en waarheid geleer, volgens die gebooie nie; en daardie bose een het mag oor jou, soos tans, en dit is die oorsaak van jou ellende.

43 En nou, ’n gebod gee Ek aan jou—indien jy verlos wil wees, sal jy jou eie huis in orde bring, want daar is vele dinge wat nie reg is in jou huis nie.

44 Voorwaar, Ek sê vir my dienskneg Sidney Rigdon, dat in sommige dinge het hy nie die gebooie onderhou aangaande sy kinders nie; daarom, bring eers jou huis in orde.

45 Voorwaar, Ek sê vir my dienskneg Joseph Smith, Jr., of met ander woorde, Ek sal julle vriende noem, want julle is my vriende, en julle sal ’n erfenis met My hê—

46 Ek het julle diensknegte genoem vir die wêreld se ontwil, en julle is hulle diensknegte om My ontwil—

47 En nou, voorwaar, Ek sê vir Joseph Smith, Jr.,—Jy het nie die gebooie onderhou nie, en moet noodwendig bestraf word voor die Here;

48 Jou familie moet noodwendig bekeer en sommige dinge versaak, en meer getrou gehoor gee aan jou woorde, of uit hulle plek verwyder word.

49 Wat Ek aan een sê, sê Ek aan almal; bid altyd sodat daardie bose een nie mag het in jou nie, en jou uit jou plek verwyder nie.

50 My dienskneg Newel K. Whitney, ’n biskop van my kerk, het ook nodig om getugtig te word, en sy familie in orde te bring, en toe te sien dat hulle meer ywerig en betrokke tuis is, en altyddeur bid, of hulle sal verwyder word uit hulle plek.

51 Nou, sê Ek vir julle my vriende, laat my dienskneg Sidney Rigdon sy reis onderneem, en hom haas, en ook die aanvaarbare jaar van die Here verkondig, en die evangelie van heil, soos Ek hom sal gee om te spreek; en vanweë julle gebed van geloof in eensgesindheid, sal Ek hom ondersteun.

52 En laat my diensknegte Joseph Smith, Jr., en Frederick G. Williams hulle ook haas, en dit sal aan hulle gegee word, en wel deur die gebed van geloof; en in soverre julle my woorde onderhou, sal julle nie vernietig word in hierdie wêreld nie, nóg in die komende wêreld.

53 En voorwaar, Ek sê vir julle, dat dit my wil is dat julle jul moet haas om my skrifture te vertaal, en om ’n kennis te verkry van geskiedenis, en van lande, en van koninkryke, van wette van God en die mens, en dit alles vir die heil van Sion. Amen.