2016
Die Seëninge van Gehoorsaamheid
Oktober 2016


Eerste Presidentskap-boodskap, Oktober 2016

Die Seëninge van Gehoorsaamheid

President Thomas S. Monson het geleer dat: “die grootste les wat ons gedurende ons aardse lewe kan leer, is dat wanneer God praat en ons gehoorsaam is, sal ons altyd reg wees.”1

Ons sal ook geseënd wees. President Monson het in ʼn onlangse algemene konferensie gesê: “Wanneer ons die gebooie onderhou, sal ons lewens gelukkiger en voller wees, en met minder komplikasies. Ons uitdagings en probleme sal makliker wees om te verduur, en ons sal [God se] beloofde seëninge ontvang.”2

In die volgende uittreksels vanuit President Thomas S. Monson se leringe as President van die Kerk, herinner hy ons dat gehoorsaamheid aan die gebooie die sekerste gids tot geluk en vrede is.

Riglyne vir die Reistog

“God se gebooie word nie gegee om ons te frustreer nie, of om ʼn struikelblok tot ons geluk te word nie. Net die teenoorgestelde is waar. Hy wat ons geskape het, en wat ons met ʼn perfekte liefde liefhet, weet presies hoe ons moet leef sodat ons die grootste geluk moontlik kan bekom. Hy het aan ons riglyne verskaf wat, indien ons dit volg, ons veilig deur hierdie, dikwels gevaarlike aardse reistog, sal sien. Ons onthou die woorde van die bekende gesang: ‘Onderhou die gebooie! Hierin is veiligheid; hierin is vrede’ [sien “Onderhou die Gebooie,”Gesange, no. 303].”3

Krag en Kennis

“Gehoorsaamheid is die kenmerk van profete; dit het deur die eeue aan hulle krag en kennis verskaf. Dit is noodsaaklik dat ons besef dat ons ook geregtig is op hierdie bron van krag en kennis. Dit is vandag aan elkeen van ons maklik beskikbaar, soos wat ons God se gebooie gehoorsaam. …

“Die kennis waarna ons soek, die antwoorde waarna ons smag en die krag wat ons vandag begeer om die uitdagings van ʼn komplekse en veranderende wêreld te oorkom, kan ons s’n wees wanneer ons gewilliglik die Here se gebooie gehoorsaam.”4

Kies om Gehoorsaam te Wees

“Die neiging van ons tyd is losbandigheid. Tydskrifte en televisieprogramme wys die sterre van die silwerdoek, die helde van die sportveld—diegene wat baie jongmense wil navolg—wat geen ag gee aan God se wette nie en met sondige gedrag te koop loop, skynbaar sonder enige nadelige gevolge. Moet dit nie glo nie! Daar is ʼn tyd vir afrekening—selfs ʼn balansering van die grootboek. Elke Aspoestertjie het haar middernag—indien nie in hierdie lewe nie, dan in die lewe hierna. Die Oordeelsdag sal vir almal kom. … Ek pleit met julle om gehoorsaam te wees.”5

Vreugde en Vrede

“Dit mag dalk soms blyk asof diegene in die wêreld meer pret het as jy. Sommige van julle mag voel asof julle beperk word deur die lewenstyl wat ons in die Kerk navolg. My broers en susters, ek verklaar egter aan julle, dat daar niks is wat meer vreugde in julle lewens kan bring, of meer vrede aan ons siele kan bring, as die Gees wat na ons kan kom wanneer ons die Verlosser volg en die gebooie onderhou nie.”6

Wandel in Opregtheid

“Ek getuig aan julle dat ons beloofde seëninge ontelbaar is. Alhoewel die stormwolke mag nader, en die reën op ons mag val, sal ons kennis van die evangelie en ons liefde van ons Hemelse Vader en van ons Verlosser ons vertroos en ons ondersteun en vreugde in ons harte bring, soos wat ons opreg lewe en die gebooie onderhou. Daar is niks in hierdie wêreld wat ons kan oorwin nie.”7

Volg die Verlosser

“Wie was hierdie Man van hartseer, bekend met smart? Wie is die Koning van heerlikheid, hierdie Heer van die leërskare? Hy is ons Meester. Hy is ons Verlosser. Hy is die Seun van God. Hy is die Oorsprong van ons Saligheid. Hy vra ‘Volg my.’ Hy beveel: ‘Gaan en doen julle net so.’ Hy pleit: ‘Onderhou my gebooie.’

“Laat ons Hom volg. Laat ons sy voorbeeld navolg. Laat ons sy woord gehoorsaam. Deur dit te doen, gee ons aan Hom die goddelike gawe van dankbaarheid.”8

Notas

  1. “Hulle Het die Pad om te Volg Aangedui,” Liahona, Okt. 2007, 5.

  2. “Onderhou die Gebooie,” Liahona, Nov. 2015, 83.

  3. “Onderhou die Gebooie,” 83.

  4. “Gehoorsaamheid Bring Seëninge,” Liahona, Mei 2013, 90, 92.

  5. “Glo, Gehoorsaam en Verduur,” Liahona, Mei 2012, 129.

  6. “Staan in Heilige Plekke,” Liahona, Nov. 2011, 83.

  7. “Hou Goeie Moed,” Liahona, Mei 2009, 92.

  8. “Vind Vreugde in die Reistog,” Liahona, Nov. 2008, 88.

Onderrig uit Hierdie Boodskap

President Monson leer ons van die baie seëninge wat ons deur ons gehoorsaamheid kan ontvang, insluitend krag, kennis, vreugde en vrede. Vra diegene wie julle onderrig hoe hulle al geseën is deur die gebooie te onderhou. Jy mag hulle dalk wil aanmoedig om oor hulle seëninge na te dink, en hulle gedagtes en ondervindinge in hulle joernaal neer te skryf. Jy kan hulle ook aanmoedig om hulle dankbaarheid aan God te toon deur hulle voortdurende gehoorsaamheid.