2017
Bewapen met Geregtigheid
Maart 2017


Eerste Presidensie-boodskap, Maart 2017

Bewapen met Geregtigheid

God se profeet op die aarde, President Thomas S. Monson, het verklaar: “Vandag staan ons voor die grootste versameling sondes, onsedelikheid, en boosheid wat nog ooit voor ons oë versamel is.”1

Sal jy verbaas wees as jy uitvind dat President Monson daardie woorde 50 jaar gelede geuiter het? As ons toe al teen so ʼn ongeëwenaarde verskeidenheid van goddelooshede gestaan het, hoeveel te meer bedreig die boosheid ons vandag? Om ʼn goeie rede het die Here aangaande ons tydvak verkondig: “En kyk, die vyand is verenig” (L&V 38:12).

Die stryd waarby “ons almal aangesluit het”2 het begin voordat ons op aarde gebore is. Dit het begin selfs voordat die aarde geskape was. Dit het baie millennia gelede begin in ʼn vooraardse bestaan, waar Satan gerebelleer het en “probeer het om die vrye keuse van die mens te vernietig” (Moses 4:3).

Satan het daardie stryd verloor en “is neergewerp op die aarde” (Openbaring 12:9), waar hy vandag nog sy stryd voortsit. Hier op die aarde “voer hy oorlog teen die heiliges van God, en omsingel hulle rondomheen” (L&V 76:29) met leuens, bedrog, en versoekings.

Hy voer oorlog teen die profete en apostels. Hy voer oorlog teen die wet van kuisheid en die heiligheid van die huwelik. Hy voer oorlog teen die familie en die tempel. Hy voer oorlog teen alles wat heilsaam, heilig, en gewyd is.

Hoe beveg ons só ʼn vyand? Hoe veg ons teen die euwel wat blyk asof dit ons aarde verswelg? Wat is ons wapenrusting? Wie is ons bondgenote?

Die Mag van die Lam

Die Profeet Joseph Smith het geleer dat Satan net mag oor ons het tot dié mate wat ons hom toelaat.3

Toe hy ons dag gesien het, het “Nefi, die krag van die Lam van God gesien, dat dit neergedaal het op die heiliges van die kerk van die Lam, en op die verbondsvolk van die Here, wat verstrooi was oor die hele aangesig van die aarde; en hulle was bewapen met geregtigheid, en met die krag van God in groot heerlikheid” (1 Nefi 14:14; klem bygevoeg).

Hoe bewapen ons onsself met geregtigheid en krag? Ons heilig die Sabbatdag en eer die priesterskap. Ons sluit en onderhou heilige verbonde, werk aan ons familiegeskiedenis, en besoek die tempel. Ons strewe aanhoudend om te bekeer en pleit by die Here om “die versoenende bloed van Christus [te laat] geld sodat ons vergifnis van ons sondes mag ontvang” (Mosia 4:2). Ons bid en dien en getuig en oefen geloof in Jesus Christus uit.

Ons bewapen onsself ook met geregtigheid deur “in ons verstand voortdurend ʼn skat bymekaar [te maak] van die woorde van die lewe” (L&V 84:85). Ons maak voortdurend ʼn skat van daardie woorde deur onsself in die heilige skrifture te verdiep en in die woorde van die Here se verkose dienaars, wat Sy wil, verstand, en stem met ons sal deel (sien L&V 68:4) gedurende volgende maand se algemene konferensie.

In ons stryd teen boosheid, moet ons altyd onthou dat ons hulp van beide kante van die sluier ontvang. Ons bondgenote sluit in God, die Ewige Vader, die Here Jesus Christus, en die Heilige Gees.

Ons bondgenote sluit ook die onsigbare leërs van die hemel in. “Vrees nie,” het Elísa vir die vreesbevange jong man gesê toe hulle voor die leër van goddeloosheid te staan gekom het, “want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is” (sien 2 Konings 6:15–16).

Ons hoef nie te vrees nie. God het Sy Heiliges lief. Hy sal ons nooit verlaat nie.

Ek weet dat God, in antwoord op gebed, al my smekinge vervul het deur my van die bose te verlos. Ek getuig dat met die hulp van God die Vader, die Verlosser van die wêreld, en die Heilige Gees, ons verseker kan wees dat ons meer as genoeg krag gegee sal word om alle goddelose magte te weerstaan.

Mag ons altyd met geregtigheid bewapen wees sodat ons vertroue kan hê in die finale oorwinning.

Notas

  1. Thomas S. Monson, “Correlation Brings Blessings,” Relief Society Magazine, Apr. 1967, 247.

  2. “We Are All Enlisted,” Hymns, no. 250.

  3. Sien Teachings of Presidents of the Church: Joseph Smith (2007), 214.