2017
Die Regverdiges Sal Deur Geloof Leef
April 2017


Eerste Presidensie-boodskap, April 2017

Die Regverdiges Sal Deur Geloof Leef

Die Rabbi en die Seepmaker

Daar is ʼn ou Joodse verhaal oor ʼn seepmaker wat nie in God geglo het nie. Eendag terwyl hy saam met ʼn rabbi geloop het, het hy gesê, “Daar is iets wat ek nie kan verstaan nie. Ons het al vir duisende jare godsdiens. Maar oral waar jy kyk is daar boosheid, korrupsie, oneerlikheid, ongeregtigheid, pyn, honger en geweld. Dit blyk dat godsdiens glad nie die wêreld verbeter het nie. Dus vra ek jou, watter nut het dit?”

Die rabbi het vir ʼn tydjie nie geantwoord nie, maar aangehou loop saam met die seepmaker. Hulle het uiteindelik ʼn speelterrein genader waar kinders, bedek met stof, besig was om in die grond te speel.

“Daar is iets wat ek nie verstaan nie,” het die rabbi gesê. “Kyk na daardie kinders. Ons het al vir duisende jare seep, en tog is daardie kinders vuil. Watter nut het seep?”

Die seepmaker het geantwoord, “Maar rabbi, dit is nie regverdig om die seep te blameer vir hierdie vuil kinders nie. Seep moet gebruik word vóór dit sy doel kan bereik.

Die rabbi het geglimlag en gesê, “Presies.”

Hoe Sal Ons Leef?

Die Apostel Paulus het ʼn Ou Testamentiese profeet aangehaal, en opgesom wat dit beteken om ʼn gelowige te wees, toe hy geskryf het, “Die regverdige sal uit die geloof lewe” (Romeine 1:17).

Dalk kan ons in hierdie eenvoudige stelling die verskil verstaan tussen ʼn godsdiens wat swak en ondoeltreffend is en een wat die krag het om lewens te omskep.

Maar om te verstaan wat dit beteken om deur geloof te leef, moet ons verstaan wat geloof is.

Geloof is meer as net glo. Dit is volkome vertroue in God, wat met aksie vergesel word.

Dit is meer as om net te wens.

Dit is meer as om net terug te sit, ons koppe te knik en te sê ons stem saam. Wanneer ons sê “die regverdige sal uit geloof lewe,” bedoel ons dat ons deur ons geloof gelei word. Ons reageer op ʼn manier wat ooreenstem met ons geloof—nie vanweë ʼn sin van gedagtelose gehoorsaamheid nie, maar vanweë ʼn vertroue en opregte liefde vir ons God en vir die onskatbare wysheid wat Hy aan Sy kinders geopenbaar het.

Geloof moet deur aksie vergesel word; anders het dit geen lewe nie (sien Jakobus 2:17). Dit is hoegenaamd nie geloof nie. Dit het nie die krag om ʼn enkele individu te verander nie, nóg minder die hele wêreld.

Mans en vroue van geloof vertrou hul genadige Hemelse Vader—selfs gedurende tye van onsekerheid, selfs gedurende tye van twyfel en teenstand wanneer hulle dalk nie volkome kan sien of duidelik kan verstaan nie.

Mans en vroue van geloof loop doelgerig die pad van dissipelskap en streef daarna om die voorbeeld van hulle geliefde Saligmaker, Jesus Christus te volg. Geloof motiveer en, inderdaad, inspireer ons om ons harte hemelwaarts te wend en om aktief uit te reik, en ons medemens op te hef en te seën.

Geloof sonder aksie is soos seep wat in die houer bly. Dit mag wonderlike potensiaal hê, maar in werklikheid het dit min krag om ʼn verskil te maak totdat dit vir sy bepaalde doel gebruik word. Die herstelde evangelie van Jesus Christus is ʼn evangelie van aksie. Die Kerk van Jesus Christus leer ware godsdiens as ʼn boodskap van hoop, geloof, en naasteliefde, insluitende om andere op geestelike en tydelike wyses te help.

ʼn Paar maande gelede het my vrou, Harriet en ek met sommige van ons kinders op ʼn familie-reis na die Mediterreense area gegaan. Ons het ʼn paar vlugtelingkampe besoek en families uit oorlog-geteisterde lande ontmoet. Hierdie mense was nie van ons geloof nie, maar hulle was ons broers en susters en hulle het dringend hulp nodig gehad. Ons harte is diep geraak toe ons eerstehands ondervind hoe die aktiewe geloof van ons Kerklede hulp, verligting en hoop aan ons medemens in nood bring, nieteenstaande hulle godsdiens, nasionaliteit of opvoeding.

Geloof gepaard met volgehoue aksie vul die hart met sagmoedigheid, die verstand met wysheid en insig, en die siel met vrede en liefde.

Ons geloof kan ons en diegene om ons seën en regverdiglik beïnvloed.

Ons geloof kan die wêreld vul met welwillendheid en vrede.

Ons geloof kan haat in liefde omskep en vyande in vriende.

Die regverdiges leef dus deur in geloof op te tree; hulle leef deur op God te vertrou en in Sy weg te wandel.

En dit is die tipe geloof wat individue, families, nasies en die wêreld kan omskep.