2021
Groei in die Beginsel van Openbaring
Januarie 2021


“Groei in die Beginsel van Openbaring,” Liahona, Januarie 2021

Maandelikse Liahona-boodskap, Januarie 2021

Groei in die Beginsel van Openbaring

Ek moedig jou aan om die nodige stappe te doen om die Here beter en meer gereeld te hoor sodat jy die insig kan ontvang wat Hy jou wil gee.

Beeld
plant

Foto van Getty Images

Op 30 September 2017, na die middagsessie van algemene konferensie, het ek na die hospitaal gegaan om te kyk hoe dit met my geliefde kworumlid Ouderling Robert D. Hales gaan. Hy was gehospitaliseer sedert hy ʼn paar dae tevore ʼn hartaanval gehad het.

Ons het ʼn wonderlike besoek gehad en dit het gelyk asof hy beter word. Hy het selfs op sy eie asemgehaal, wat ʼn goeie teken was.

Daardie aand het die Gees egter tot my hart en verstand gespreek dat ek Sondag na die hospitaal moes terugkeer. Gedurende die Sondagoggend-sessie van algemene konferensie het daardie sterk indruk weer teruggekeer. Ek het gevoel dat ek middagete moes oorslaan en na die siekbed van Ouderling Hales moes haas sodra die oggendsessie geëindig het, wat ek gedoen het.

Toe ek daar aankom, kon ek sien dat Ouderling Hales se toestand ernstig versleg het. Ongelukkig het hy tien minute nadat ek daar aangekom het gesterf, maar ek is dankbaar dat ek aan sy sy was saam met sy geliefde vrou, Mary, en hul twee seuns toe hy hierdie lewe verlaat het.

Hoe dankbaar is ek dat die fluisteringe van die Heilige Gees my aangespoor het om iets te doen wat ek dalk andersins nie sou doen nie. En hoe dankbaar is ek vir die werklikheid van openbaring en dat die hemele weer eens oop is.

Ons fokus hierdie jaar vir persoonlike en klaskamerstudie sal die Leer en Verbonde wees. Hierdie “goddelike openbarings en geïnspireerde verklarings” kan almal seën wat dit bestudeer en volgens hul goddelike voorskrifte handel. Hulle nooi “alle mense oral om die stem van die Here Jesus Christus te hoor,”1 want voorwaar “die stem van die Here is tot alle mense” (Leer en Verbonde 1:2).

Gevaar, Duisternis, Misleiding

Fisiese en geestelike storms is deel van die lewe op aarde, soos die COVID-19 pandemie ons daaraan herinner het. Van die tyd voor sy Wederkoms, het die Saligmaker dae van groot verdrukking voorspel. Hy het gesê: “Daar sal hongersnood wees, en pestilensies, en aardbewings in verskeie plekke” (Joseph Smith—Matthéüs 1:29).

Sodanige verdrukking verger die toenemende duisternis en misleiding wat ons omring. Soos Jesus vir sy dissipels gesê het, sal “ongeregtigheid oorvloedig wees” voor sy wederkoms (Joseph Smith—Matthéüs 1:30).

Satan het sy magte versamel en woed teen die werk van die Here en diegene van ons wat daaraan deelneem. Vanweë die toenemende gevare wat ons in die gesig staar, was ons behoefte aan goddelike leiding nog nooit groter nie en ons pogings om die stem van Jesus Christus—ons Bemiddelaar, Redder en Saligmaker te hoor—was nog nooit dringender nie.

Soos ek gesê het kort nadat ek as President van die Kerk geroep is, die Here is gereed om sy denke aan ons bekend te maak. Dit is een van sy grootste seëninge aan ons.2

In ons tyd, het Hy belowe: “As jy sal vra, sal jy openbaring op openbaring ontvang, kennis op kennis” (Leer en Verbonde 42:61).

Ek weet dat Hy op ons pleidooie sal reageer.

Hoe Ons Hom Hoor

Dit is vandag belangrik om te weet hoe die Gees spreek. Om persoonlike openbaring te ontvang, om antwoorde te vind en om beskerming en leiding te kry, onthou ons die patroon wat die Profeet Joseph Smith vir ons gestel het.

Eerstens verdiep ons onsself in die skrifture. Sodoende word ons verstand en harte ontvanklik vir die leringe en waarhede van die Saligmaker. Die woorde van Christus “sal [ons] alle dinge vertel wat [ons] moet doen” (2 Nefi 32:3), veral in hierdie dae van onsekerheid en oproer.

Volgende bid ons. Gebed vereis inisiatief, dus verootmoedig ons ons voor God, vind ʼn stil plek waar ons gereeld kan gaan en ons harte voor Hom kan uitstort.

Die Here sê: “Kom nader na My en Ek sal nader aan julle kom; soek My ywerig en julle sal My vind; vra en julle sal ontvang; klop, en dit sal vir julle oopgemaak word” (Leer en Verbonde 88:63).

Om nader aan die Here te kom bring vertroosting en bemoediging, hoop en genesing. Dus bid ons in sy Naam oor ons bekommernisse en ons swakhede, ons verlange en ons geliefdes, ons roepinge en ons vrae.

Dan luister ons.

As ons vir ʼn wyle op ons knieë sal bly nadat ons klaar is met ons gebed, sal daar gedagtes, gevoelens en leiding in ons denke kom. As ons daardie indrukke neerskryf sal dit ons help om te onthou watter aksies die Here wil hê ons moet neem.

Beeld
vrou wat studeer

As ons hierdie proses herhaal, sal ons, in die woorde van die Profeet Joseph Smith “groei in die beginsel van openbaring.”3

Waardig om Openbaring te Ontvang

Om ons vermoë te verfyn om die fluisteringe van die Heilige Gees te herken en ons vermoë om openbaring te ontvang, te vergroot, is dit nodig dat ons waardig moet wees. Waardigheid vereis nie volmaaktheid nie, maar dit vereis dat ons moet streef na toenemende reinheid.

Die Here verwag daaglikse inspanning, daaglikse verbetering, daaglikse bekering. Waardigheid bring reinheid en reinheid kwalifiseer ons vir die Heilige Gees. As ons “die Heilige Gees as [ons] gids” neem (Leer en Verbonde 45:57), kwalifiseer ons vir persoonlike openbaring.

As iets ons verhoed om die deur oop te maak vir hemelse leiding, moet ons dalk bekeer. Bekering laat ons toe om die deur oop te maak sodat ons die stem van die Here meer gereeld en duidelik kan hoor.

“Die standaard is duidelik,” het Ouderling David A. Bednar van die Kworum van die Twaalf Apostels geleer. “As iets wat ons dink, sien, hoor of doen, ons distansieer van die Heilige Gees, dan moet ons ophou om aan daardie ding te dink, te sien, te hoor of te doen. As dít wat bedoel is om te vermaak, byvoorbeeld, ons van die Heilige Gees vervreem, dan is daardie tipe vermaak sekerlik nie vir ons nie. Omdat die Gees nie dit wat vulgêr, kru of onbetaamlik is kan verdra nie, dan is sulke dinge duidelik nie vir ons nie.”4

Wanneer ons toenemende reinheid en gehoorsaamheid koppel met vas, om ywerig te soek, die bestudering van die skrifture en die woorde van die lewende profete en familiegeskiedeniswerk, sal die hemele oopgaan. Die Here, op sy beurt, sal sy belofte vervul: “Ek sal van my Gees aan jou meedeel, wat jou verstand sal verlig” (Leer en Verbonde 11:13).

Ons sal moontlik geduldig moet wees, maar God sal met ons praat op sy eie manier en in sy eie tyd.

ʼn Gees van Begrip

Job het verklaar: “Dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak” (Job 32:8). In hierdie nuwe jaar wil ek jou aanmoedig om die nodige stappe te doen om die Here beter en meer gereeld te hoor, sodat jy die verheldering kan ontvang wat Hy jou wil gee.

Voor Ouderling Hales se afsterwe daardie dag in Oktober 2017, het hy ʼn kort boodskap voorberei vir algemene konferensie wat hy nie in staat was om te gee nie. In daardie boodskap het hy geskryf: “Ons geloof berei ons voor om in die teenwoordigheid van die Here te wees.”5

Wanneer ons openbaring ontvang, bring ons tyd deur in die teenwoordigheid van God soos Hy sy denke, wil en stem aan ons openbaar (sien Leer en Verbonde 68:4). Mag ons ons geloof in werking stel, Hom aanroep, waardig leef van sy beloofde inspirasie en volgens die leiding wat ons ontvang, handel.

Notas

  1. Inleiding tot die Leer en Verbonde

  2. Sien Russell M. Nelson, “Revelation for the Church, Revelation for Our Lives,” Liahona, Mei 2018, 94.

  3. Teachings of Presidents of the Church: Joseph Smith (2007), 132.

  4. David A. Bednar, “That We May Always Have His Spirit to Be with Us,” Liahona, Mei 2006, 30.

  5. In Neil L. Andersen, “The Voice of the Lord,” Liahona, Nov. 2017, 125.