2021
Vind Krag om te Vergewe
Junie 2021


“Vind Krag om te Vergewe,” Vir die Krag van die Jeug, Junie 2021, 10–11.

Come, Follow Me

Vind Krag om te Vergewe

Die Here het ons gebied om andere te vergewe. Hy sal ons help om sy gebooie te onderhou, insluitend hierdie een.

Leer en Verbonde 64:10

Beeld
vrou kyk na iemand wat ʼn hand na haar uitsteek

IIlustrasie deur James Madsen

Lyk dit of sommige gebooie moeiliker is om te onderhou as ander?

Hier is een wat baie mense intimideer: “Ek, die Here, sal vergewe wie Ek wil vergewe, maar van julle word dit vereis dat julle alle mense sal vergewe” (Leer en Verbonde 64:10).

Wag. Ons moet elkeen vergewe wat ons verontreg het? Is dit ooit moontlik?!

Dit is een ding om iemand te vergewe wat iets onbeskof vir jou sê of wat die laaste broodrolletjie op die etenstafel neem. Maar wat van die diep wonde? Daardie ernstige oortredings wat ons lewe kan ontwrig of selfs die rigting van ons lewens verander?

Somtyds kan die vermoë om iemand wat ons baie seergemaak het te vergewe, ver buite ons bereik voel.

Hier is die goeie nuus: Met die hulp van Jesus Christus is ons nooit beperk tot wat ons op ons eie kan doen nie.

Die Hulp Wat Sy Nodig Gehad Het

ʼn Toegewyde Christen van Nederland genaamd Corrie ten Boom het eerstehands uitgevind van die krag om God te vra om haar te help om iemand te vergewe.

Sy en haar suster Betsy was gedurende die Tweede Wêreldoorlog in gevangenskap in konsentrasiekampe. Corrie en andere het verskriklike mishandeling van die Nazi tronkwagte verduur. Haar suster Betsy is selfs dood as gevolg van daardie mishandeling. Corrie het oorleef.

Na die oorlog het Corrie die helende krag ontdek om andere te vergewe. Sy het haar boodskap dikwels in die openbaar gedeel. Tog is haar woorde eendag tot die uiterste getoets.

Na ʼn openbare toespraak is Corrie deur een van die wreedste tronkwagte van die kampe genader.

Hy het vir Corrie vertel dat hy ʼn Christen geword het sedert die oorlog en dat hy bekeer het van al die verskriklike dinge wat hy as ʼn tronkwag gedoen het.

Hy het sy hand na haar uitgesteek en gesê: “Sal jy my vergewe?”

Ten spyte van alles wat sy geleer en gedeel het oor om andere te vergewe, kon Corrie nie hierdie spesifieke man se hand neem en hom vergewe nie—ten minste nie op haar eie nie.

Sy het later geskryf: “Selfs toe die woedende, wraaksugtige gedagtes deur my gekook het, het ek die sonde daarvan gesien. … Here Jesus, het ek gebid, vergewe my en help my om hom te vergewe.

“Ek het probeer glimlag [en] ek het gesukkel om my hand op te lig. Ek kon nie. Ek het niks gevoel nie, nie die geringste vonk van warmte of naasteliefde nie. Ek het toe weer ʼn stille gebed gesê. Jesus, ek kan hom nie vergewe nie. Gee my U vergifnis.

“Toe ek sy hand neem het die ongelooflikste ding gebeur. Van my skouer af langs my arm en deur my hand het dit gevoel of ʼn stroom van my na hom oorgegaan het, terwyl ek in my hart ʼn liefde vir hierdie vreemdeling gevoel het wat my amper oorweldig het.

“En so het ek ontdek dat die wêreld se genesing nie meer op ons vergifnis berus as op ons goedheid nie, maar op syne. Wanneer Hy vir ons sê om ons vyande lief te hê, gee Hy tesame met die gebod, die liefde self.”1

God is daar om jou te help om sy gebooie te onderhou, insluitend die gebod om te vergewe—selfs wanneer dit moeilik is. Hy kan jou help net soos Hy vir Corrie ten Boom gehelp het.

Die Genesing Wat Jy Verdien

Die lewe is moeilik. Dit is deurmekaar. En dit is absoluut vol mense met Godgegewe handelingsmag.

Gedurende daardie tye wanneer iemand ʼn keuse maak wat jou erge pyn veroorsaak—of dit selfs per ongeluk doen—kan jy helende krag ontvang wanneer jy bid vir hulp en strewe om te vergewe.

Om andere te vergewe bring genesing vir jou siel. Met God se hulp, wanneer jy iemand wat jou leed aangedoen het vergewe, val ʼn verskriklike las van jou skouers af wat jou dalk terughou. Selfs wanneer die pad na ware genesing moeilik voel, sal jy met God dit nooit alleen hoef te loop nie.

Notas

  1. Corrie ten Boom, The Hiding Place (1971), 215.

  2. Jeffrey R. Holland, Oct. 2018 general conference (Ensign of Liahona, Nov. 2018, 79).