2022
Wat Is Gesinstuisaand?
Augustus 2022


“Wat Is Gesinstuisaand?” Liahona, Aug. 2022.

Maandelikse Liahona-boodskap, Augustus 2022

Wat Is Gesinstuisaand?

Beeld
ma, pa en dogtertjie wat buite sit

Gesinstuisaand is ʼn tyd wat gedurende die week opsy gesit word vir jou gesin om bymekaar te kom. Gedurende hierdie tyd kan julle “die evangelie leer, getuienisse versterk, eenheid bou en mekaar geniet” (Algemene Handleiding: Diens in Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, 2.2.4, ChurchofJesusChrist.org). Gesinstuisaand lyk ietwat anders vir elke gesin. Maar die doel is om hierdie tyd te gebruik om nader aan mekaar en nader aan die Saligmaker te kom.

Voorbereiding

Dink aan ʼn aktiwiteit wat jou gesin geniet en ʼn evangelieonderwerp wat julle graag saam wil bespreek en leer. Kies ook elke week ʼn dag en tyd wanneer die meeste of alle gesinslede kan bymekaarkom. Die Kerk moedig lede aan om gesinstuisaand op Maandagaande te hou. Maar gesinne kan ontmoet wanneer dit die beste vir hulle werk.

Beeld
familie wat bid

Gebed

Baie gesinne begin en eindig gesinstuisaand met gebed. Dit nooi die Heilige Gees in hulle huis in. Gesinstuisaand is ʼn ideale tyd vir kinders en volwassenes om te leer om saam met ʼn klein groepie te bid.

Musiek

Baie gesinne het ook ʼn openings- en slotlied. Hulle kies gewoonlik ʼn liedjie uit die gesangeboek of die Primêre liedereboek. Die Kerk het klavieropnames van die gesange by music.ChurchofJesusChrist.org. Julle kan ook video’s van die Tabernakelkoor by Temple Square kyk. Om gedurende die gesinstuisaand te sing, help lede om die gesange te leer wat by die kerk gesing word.

Les

Die Kerk het baie hulpbronne wat kan help met gesinstuisaand. Julle kan ʼn paar minute neem om ʼn artikel uit die Liahona, die Vriend, of Vir die Krag van die Jeug te lees. Dit kan ook ʼn tyd wees om Kerkvideo’s te kyk en te bespreek. Of julle kan ʼn praatjie uit die algemene konferensie lees, skrifture lees of daardie week se leeswerk in Come, Follow Me bespreek.

Beeld
kinders bak koekies

Foto van kinders wat koekies bak deur Michelle Loynes

Gesinsbetrokkenheid

Kinders kan aan gesinstuisaand deelneem. Hulle kan help om aktiwiteite te beplan, te bid of die liedjies te kies en te lei. Hulle kan selfs lesse onderrig. Voor gesinstuisaand kan jy jou kind help om ʼn storie in die Vriend-tydskrif of hulle gunsteling skriftuurstorie te lees. Die kind kan dan daardie storie aan die familie vertel as die les. Baie kinders hou ook daarvan om skriftuurverhale vir gesinstuisaand uit te beeld. Laat ouer kinders die les beplan of ʼn algemene konferensiepraatjie kies wat hulle graag wil lees. Laat hulle dan die bespreking lei.

Aktiwiteite

Baie gesinne geniet dit om aktiwiteite as deel van die gesinstuisaand te doen. Binnenshuise aktiwiteite kan insluit om speletjies te speel, handwerk te doen of saam te kook.

Vir buitemuurse aktiwiteite kan julle gaan stap, op ʼn gesinstaptog gaan of saam ʼn sport buite speel. Vind ʼn aktiwiteit wat alle familielede kan doen, en saam geniet. Vermy mededingende oomblikke wat die Gees kan verdryf.

Diens

Gesinstuisaand is ʼn goeie tyd vir gesinne om ander te dien. Julle kan byvoorbeeld ouer bure help, kos by ʼn hawelose skuiling bedien, aan sendelinge skryf of rommel optel.