Liahona
Ek is ʼn Dissipel van Jesus Christus
Januarie 2024


“Ek is ʼn Dissipel van Jesus Christus,” Vir die Krag van die Jeug, Jan. 2024.

Maandelikse Vir die Krag van die Jeug-boodskap, Januarie 2024.

Ek is ʼn Dissipel van Jesus Christus

Jy kan die Saligmaker volg en sy woord aan ander versprei.

Beeld
2024 Jeugtema-logo

Het jy al ooit gewonder waarom Jesus, nadat Hy mense genees het, vir sommige van hulle gesê het om niemand daarvan te vertel nie (sien Markus 7:36)? Een rede het dalk te make met die tipe volgelinge wat Hy benodig het. ʼn Mens sal dink dat as mense oor hulle genesing gepraat het, dit ʼn goeie manier sou wees waarop Jesus volgelinge kon lok. Jesus het egter nie net volgelinge benodig nie. Hy het dissipels nodig gehad.

Jesus het aan Petrus en Andreas gesê: “Volg My” (Matthéüs 4:19). Die Joseph Smith-vertaling van die vers lees: “Ek is die een oor wie die profete geskryf het; volg My” (Joseph Smith-vertaling, Matthéüs 4:18 [in Matthéüs 4:19, voetnota a]). Die uitnodiging was nie om ʼn rukkie saam met Hom te kuier nie. Hy wou hê dat hulle vir ewig sy dissipels moes wees.

Hy wou nie net hê dat hulle moes kyk hoe Hy mense leer, liefhet en wonderwerke doen nie. Hy wou hê hulle moes dieselfde doen. Hy wou hê dat sy werk húlle werk moes word. Om Christus te kies, het beteken hulle sou leer dien soos Hy gedien het, en leer dink soos Hy gedink het. Hulle sou oefen om te lewe soos Hy geleef het, en Hy sou hulle onderrig en hulle die hulp verleen wat hulle benodig het om meer soos Hy te word.

Beeld
Jesus Christus

Die Griekse woord vir dissipel is mathetes. Dit beteken meer as volgeling of student. Dit word dikwels as “vakleerling” vertaal. In die tyd van Christus het dissipels gewoonlik die meester gekies by wie hulle wou leer, met die doel om self ʼn meester te word. Christus het nie die tipiese praktyk gevolg nie. Hy het dit omgedraai en eerder sy dissipels uitgesoek. Vandag roep Christus vir ons om na Hom toe te kom. Hy roep ons om sy dissipels te wees, en sy woord onder sy volk te verkondig sodat hulle die ewige lewe kan hê (sien 3 Nefi 5:13).

Een jongdame van Haïti in die Karibiese Eilande het haar begeerte gewys om ʼn dissipel van Christus te wees deur haar vriendin wat nie ʼn lid van die Kerk was nie, te nooi om saam met haar na ʼn FSY-konferensie te gaan. Haar vriendin se pa wou eers nie sy dogter toestemming gee om te gaan nie. Kerkleiers het verduidelik van die positiewe ervarings wat op haar wag en die wonderlike jongvolwasse raadgewers wat oor haar sou waak. Die pa het toestemming gegee dat sy dogter dit bywoon, en nadat hy die verskil gesien het wat dit in haar lewe maak, het hy haar ook toestemming gegee om Kerkbyeenkomste by te woon en—ses maande later—gedoop te word.

ʼn Jongman van Argentinië in Suid-Amerika het sy begeerte gewys om ʼn dissipel van Christus te wees deur van sy lekkergoed met ʼn vriend te deel terwyl hulle met die bus skool toe ry. Toe hy by ʼn koffiegegeurde stuk kom, het hy verduidelik dat hy nog nooit ʼn smaak vir daardie geur ontwikkel het nie, aangesien niemand in sy familie koffie drink nie. Dit het tot ʼn gesprek oor die Kerk gelei, wat tot ʼn uitnodiging gelei het om byeenkomste by te woon, wat uiteindelik daartoe gelei het dat sy vriend by die Kerk aangesluit en ʼn sending in Chili gedien het.

Nie almal met wie jy oor die Kerk praat of na ʼn Kerkaktiwiteit nooi sal wil aansluit nie. Dis piekfyn. Ook nie almal met wie Christus tydens sy aardse bediening gepraat het, het aangesluit nie. Tog, wanneer ons kies om dissipels van Jesus Christus te wees en sy woord te verkondig, sal Hy ons moed en goddelike hulp gee. Ons sal leer hoe om meer soos Hy te word, en dis wat dissipels doen.