Liahona
Die Blywende Vreugde van Evangelielewe
Februarie 2024


“Die Blywende Vreugde van Evangelielewe,” Liahona, Februarie 2024.

Maandelikse Liahona-boodskap, Februarie 2024

Die Blywende Vreugde van Evangelielewe

Voortdurende vreugde kom deur te volhard in die evangelie van Jesus Christus en ander te help om dieselfde te doen.

Beeld
Adam en Eva met die Tuin van Eden in die agtergrond

The Garden of Eden [Die Tuin van Eden], deur Grant Romney Clawson; Leaving the Garden of Eden [Verlaat die Tuin van Eden], deur Joseph Brickey

ʼn Bondige uitdrukking van die doel van ons lewens kan gevind word in Lehi se profetiese leringe oor die begin van die menslike lewe op aarde. Adam en Eva het in ʼn staat van onskuld geleef in die Tuin van Eden. As hulle in daardie toestand gebly het, sou hulle “sonder vreugde [gewees het], omdat hulle geen ellende geken het nie; sonder om goed te doen, want hulle het geen sonde geken nie” (2 Nefi 2:23). Dus, soos Lehi verduidelik het: “Adam het tot ʼn val gekom sodat die mens mag wees; en mense is sodat hulle vreugde mag hê” (2 Nefi 2:25; sien ook Moses 5:10–11).

Soos ons grootword in ʼn gevalle wêreld, leer ons die verskil tussen goed en kwaad deur wat ons geleer word en deur wat ons ervaar. Ons “proe die bittere, sodat [ons] mag weet om die goeie te waardeer” (Moses 6:55). Vreugde kom as ons die bitter verwerp en al hoe meer die goeie koester en daaraan vashou.

Vind Vreugde

As gevolg van sy volmaakte liefde vir ons, is ons Hemelse Vader gretig om sy volmaakte vreugde met ons te deel, beide nou en in die ewigheid. Dit was sy motivering in alles van die begin af, insluitend sy wonderlike plan van geluk en die offerande van sy Eniggebore Seun om ons te verlos.

God probeer nie om vreugde of geluk op ons af te dwing nie, maar Hy leer ons hoe om dit te vind. Hy vertel ons ook waar vreugde nie gevind kan word nie—“boosheid [is nie en] was nooit geluk nie” (Alma 41:10). Dit is deur sy gebooie dat ons Hemelse Vader aan ons die pad na vreugde openbaar.

President Russell M. Nelson het dit só uitgedruk:

“Hier is die groot waarheid: terwyl die wêreld daarop aandring dat mag, besittings, gewildheid en vleeslike plesier geluk bring, dit bring nie! Dit kan nie! Wat dit wél voortbring, is niks behalwe ʼn leë plaasvervanger vir ‘die geseënde en gelukkige toestand van diegene wat die gebooie van God onderhou’ [Mosia 2:41].

“Die waarheid is dat dit baie meer uitputtend is om geluk te soek waar julle dit nooit kan vind nie! Wanneer julle jul egter aan Jesus Christus verbind en die geestelike werk doen wat vereis word om die wêreld te oorwin, het Hy, en Hy alleen, wel die krag om jou bó die aantrekkingskrag van hierdie wêreld te lig.”1

Dus word blywende vreugde gevind in die onderhouding van die gebooie van God, en die gebooie van God word gevind in die evangelie van Jesus Christus. Maar dit is ons keuse. As ons in ons swakheid vir ʼn tyd lank faal om die gebooie te onderhou, kan ons steeds omkeer, die bitter verwerp en weer die goeie najaag. Die liefde van God verskoon nie sonde nie—dit sou genade wees wat geregtigheid beroof—maar deur sy Versoening, bied Jesus Christus verlossing van sonde aan:

“Amulek … het … gesê dat die Here sekerlik sal kom om sy volk te verlos, maar dat Hy nie sou kom om hulle te verlos in hul sondes nie, maar om hulle te verlos van hulle sondes.

“En aan Hom is krag gegee van die Vader om hulle te verlos van hulle sondes vanweë bekering; daarom het Hy sy engele gestuur om die tydings van die voorwaardes van bekering te verkondig, wat mense tot die krag van die Verlosser, tot die heil van hulle siele bring” (Helaman 5:10–11; beklemtoning bygevoeg).

Jesus het gesê:

“As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.

“Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word” (Johannes 15:10–11).

Dit is wat Lehi in sy droom gevoel het toe hy die vrugte van die boom van die lewe geproe het—wat die liefde van God verteenwoordig. Hy het gesê: “En terwyl ek van die vrug daarvan geëet het, het dit my siel vervul met uitnemende groot blydskap” (1 Nefi 8:12; sien ook 11:21–23).

Lehi het ook ʼn tweede manier geopenbaar waarop ons vreugde in ons lewens kan bring toe hy gesê het: “Daarom, ek het begin begeer dat my gesin ook [van die vrug] moes eet” (1 Nefi 8:12).

Beeld
een hand gee ʼn vrug aan ʼn ander hand, met boom in agtergrond

Tree of Life [Boom van die Lewe], deur Kazuto Uota

Help Ander om Vreugde te Vind

Soos koning Benjamin se volk, is ons “vervul met vreugde” wanneer ons vergifnis van ons sondes ontvang en “vrede van gewete” ervaar (Mosia 4:3). Ons voel dit weer wanneer ons na buite kyk en probeer om familielede en ander te help om dieselfde vreugde en vrede te ontvang.

As jong man het Alma geluk gesoek in alles wat teen die evangelie van Jesus Christus gekant was. Nadat hy deur ʼn engel bestraf is, het hy ʼn lang pad gekom van “die bittere” na “die goeie” deur bekering “tot die dood toe” (Mosia 27:28) en die Saligmaker se oorvloedige genade. Jare later verklaar Alma in vervoering aan sy seun Helaman:

“En o, watter vreugde, en watter wonderlike lig het ek aanskou; ja, my siel is vervul met vreugde so uitermate soos wat my pyn was! …

“Ja, en van daardie tyd af tot nou toe het ek gearbei sonder ophou, sodat ek siele mag bring tot bekering, sodat ek hulle mag bring om die uitermate vreugde te smaak waarvan ek gesmaak het. …

“Ja, en nou kyk, o my seun, die Here gee aan my uitermate groot vreugde in die vrug van my arbeid;

“Want vanweë die woord wat Hy aan my bekend gemaak het, kyk, baie is gebore uit God, en het gesmaak wat ek gesmaak het” (Alma 36:20, 24–26).

By ʼn ander geleentheid het Alma getuig:

“Dit is my roem, dat ek miskien ʼn werktuig mag wees in die hande van God om een of ander siel tot bekering te bring; en dit is my vreugde.

“En kyk, wanneer ek baie van my broers waarlik berouvol sien, en dat hulle na die Here hulle God kom, dan word my siel vervul met vreugde” (Alma 29:9–10).

Alma het voortgegaan om die oorweldigende vreugde te verkondig wat hy gevoel het toe ander daarin geslaag het om siele na Christus te bring:

“Maar ek verheug my nie net in my eie welslae nie, maar my vreugde is meer vol vanweë die welslae van my broers [die seuns van Mosia], wat na die land Nefi opgegaan het.

“Kyk, hulle het uitermate gearbei, en het baie vrug voortgebring; en hoe groot sal hulle beloning nie wees nie!

“Nou, as ek dink aan die welslae van hierdie broers van my, word my siel weggevoer, en wel tot die skeiding daarvan van die liggaam, as’t ware, so groot is my vreugde” (Alma 29:14–16).

Ons kan dieselfde vreugde vind as ons ander met “die suiwere liefde van Christus” liefhet (Moroni 7:47; sien ook vers 48), herstelde waarheid met hulle deel, en hulle uitnooi om saam met die verbondsvolk te vergader.

Beeld
die Saligmaker in Getsémané

O My Father [O My Vader], deur Simon Dewey

Vreugde te midde van Beproewing

Ons moenie bang wees dat die beproewings en uitdagings wat ons onvermydelik in die gesig staar in die sterflikheid ons vreugde sal voorkom of vernietig nie. Alma was een wie se onbaatsugtige diens vir ander hom duur te staan gekom het. Hy het gevangenisstraf, lang periodes van honger en dors, slae, bedreigings vir sy lewe en herhaalde bespotting en verwerping gely. En tog was dit alles “verswelg in die vreugde van Christus” (Alma 31:38). Miskien het Alma se lyding die vreugde wat daarop gevolg het, nóg groter gemaak.

President Nelson herinner ons daaraan dat vreugde ʼn rol gespeel het in die Saligmaker se lyding—“vir die vreugde wat Hom voorgehou is, [Hy] die kruis verdra het” (Hebreërs 12:2).

“Dink daaraan! Vir Hom om die mees folterende ervaring wat ooit op aarde verduur is, te verduur, het ons Verlosser op vreugde gefokus!

“En wat was die vreugde wat vir Hom voorgehou is? Dit het sekerlik die vreugde van reiniging, genesing en ons versterking ingesluit; die vreugde om te betaal vir die sondes van almal wat hulle sou bekeer; die vreugde om dit vir jou en my moontlik te maak om terug te keer huis toe—rein en waardig—om saam met ons Hemelse Ouers en families te leef.

“As ons fokus op die vreugde wat na ons toe sal kom, of na diegene wat ons liefhet, wat kan ons verduur wat tans oorweldigend, pynlik, vreesaanjaend, onregverdig of eenvoudig onmoontlik lyk?”2

Voortdurende vreugde kom deur te volhard in die evangelie van Jesus Christus en ander te help om dieselfde te doen. Blywende vreugde kom wanneer ons in die liefde van God bly, sy gebooie gehoorsaam en die Saligmaker se genade ontvang. Op die evangeliepad is daar vreugde in die reis sowel as vreugde aan die einde. Die evangelie van Jesus Christus is die pad van daaglikse vreugde.

Notas

  1. Russell M. Nelson, “Oorwin die Wêreld en Vind Rus,” Liahona, Nov. 2022, 97.

  2. Russell M. Nelson, “Joy and Spiritual Survival,” Liahona, Nov. 2016, 83.