Liahona
Leef Ek “volgens die Wyse van Geluk”?
Februarie 2024


“Leef Ek ‘volgens die Wyse van Geluk’?,” Vir die Krag van die Jeug, Feb. 2024.

Maandelikse Vir die Krag van die Jeug-boodskap, Februarie 2024

2 Nefi 5

Leef Ek “volgens die Wyse van Geluk”?

Hier is ʼn paar idees vir jou om te leef soos Nefi gesê het dat sy volk geleef het.

Beeld
jeug

Illustrasie deur Alyssa Gonzalez

Kort nadat hulle van die Lamaniete geskei het, het Nefi gesê dat sy volk “volgens die wyse van geluk” geleef het (2 Nefi 5:27). As in ag geneem word dat daar ʼn ander groep mense was wat hulle wou doodmaak (sien 2 Nefi 5:1–6, 14), kan dit verbasend wees. Hoe kan enigiemand onder sulke omstandighede gelukkig wees?

Let eerstens daarop dat “ons volgens die wyse van geluk geleef het” nie beteken dat “elke Nefiet 24/7 gelukkig was” nie. Dit beteken dat hulle op die wyse geleef het en die soort dinge gedoen het wat gewoonlik tot geluk lei. Oor die algemeen, ten spyte van hul uitdagings, was dit ʼn gelukkige tyd.

So, wat is “die wyse van geluk”? Hoe kan ons dit in ons eie lewens dupliseer, wat ook uitdagings het? Kom ons kyk!

  • Wees gehoorsaam. “Ons het … die gebooie van die Here … onderhou” (2 Nefi 5:10).

    Om die evangelie uit te leef is Stap 1. Jy mag dalk tydelik gelukkig wees in sonde, maar dit sal nie aanhou nie. Om doelbewus aan God ongehoorsaam te wees, is nie “die wyse van geluk” nie (sien Alma 41:10).

  • Deursoek die skrifture. “Ek, Nefi, het … die kronieke gebring wat gegraveer was op die plate van brons” (2 Nefi 5:12). “Ons … het hulle deursoek, en gevind dat hulle begeerlik was; ja, en wel van groot waarde vir ons” (1 Nefi 5:21).

    Nefi se volk het die skrifture gehad. En hulle het dit nie net gehad nie—hulle het dit deursoek.

  • Luister na geïnspireerde leiers. “Ek Nefi [het] Jakob en Josef gewy, dat hulle priesters en leraars sou wees oor … my volk” (2 Nefi 5:26).

    Hierdie leraars het die skrifture as hulle riglyn gebruik (sien 2 Nefi 4:15; 6:4).

  • Gaan na die tempel (en ook ander heilige plekke). “Ek, Nefi, het ʼn tempel gebou” (2 Nefi 5:16).

    Dit is belangrik om heilige plekke soos bymekaarkomplekke en tempels te hê vir dissipels om bymekaar te kom en te aanbid. (Ons kan aanneem dat die Nefiete nie net ʼn tempel gehad het nie—hulle het dit inderdaad gebruik.) As jy nie persoonlik ʼn tempel kan bywoon nie, kan jy altyd familiegeskiedeniswerk doen.

  • Wees produktief. “Ek het my volk geleer om geboue te bou, en om … te werk. … [ek] het my volk geleer om vlytig te wees, en om te werk met hulle hande” (2 Nefi 5:15, 17).

    Deel van “die wyse van geluk” is om iets te hê om te doen! ʼn Opdrag, ʼn werk, ʼn verantwoordelikheid—iets wat jou fokus en doel gee (met paslike tyd om natuurlik te ontspan). Dit is moeilik om gelukkig te wees as jy die hele tyd verveeld is.

Sou jy sê dat jy tans leef volgens die wyse van geluk? Indien nie, kan Nefi se voorbeeld jou miskien ʼn paar idees gee oor hoe om te verbeter.