2017
Soos Ek Julle Liefgehad Het
Februarie 2017


Eerste Presidentskap-boodskap, Februarie 2017

“Soos Ek Julle Liefgehad Het”

ʼn Paar jaar gelede het ʼn vriend, genaamd Louis, vir my die storie vertel van sy sagmoedige, sagsprekende moeder. Toe sy oorlede is, het sy nie vir haar seuns en dogters ʼn fortuin in geld agtergelaat nie, maar eerder ʼn erfenis van groot waarde in voorbeeld, opoffering en gehoorsaamheid.

Na die begrafnislofredes gegee is en die hartseer optog na die begraafplaas gemaak is, het die volwassenes in die familie die paar besittings wat hulle moeder agtergelaat het, uitgesorteer. Onder hulle het Louis ʼn nota en ʼn sleutel gekry. Die nota het hierdie instruksie bevat: “In die hoekslaapkamer, in die onderste laai van my spieëltafel, is ʼn klein boksie. Dit bevat die skatte van my hart. Hierdie sleutel sal die boksie oopsluit.”

Almal het gewonder wat hulle moeder gehad het wat so waardevol was dat sy dit agter slot en sleutel geplaas het.

Die boksie is vanuit sy rusplekkie verwyder en versigtig oopgemaak met behulp van die sleutel. Soos wat Louis en die ander die inhoud van die boksie bestudeer het, het hulle ʼn individuele foto van elke kind gevind, met die kind se naam en geboortedatum. Louis het toe ʼn handgemaakte valentynskaartjie uitgetrek. In eenvoudige kinderlike handskrif, wat hy as sy eie erken het, het hy die woorde gelees wat hy 60 jaar vantevore geskryf het: “Liewe Moeder, Ek is lief vir jou.”

Harte was teer, stemme sag en oë klam. Moeder se skatte was haar ewige familie. Die krag daarvan het gerus op die rotsbodemfondasie van “Ek is lief vir jou.”

In vandag se wêreld is daardie rotsbodemfondasie van liefde nêrens meer nodig as in die huis nie. En nêrens behoort die wêreld ‘ʼn beter voorbeeld van daardie fondasie te sien as in die huise van Heiliges van die Laaste Dae nie wat liefde die hart van hulle familielewe gemaak het.

Aan diegene van ons wat voorgee om dissipels van die Verlosser Jesus Christus te wees, het Hy hierdie verreikende instruksie gegee:

“ʼn Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.

“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”1

As ons die gebod om mekaar lief te hê wil gehoorsaam, moet ons ander met teerheid en respek behandel, en liefde in ons daaglikse interaksies toon. Liefde gee ʼn vriendelike woord, ʼn geduldige antwoord, ʼn selflose daad, ʼn oor wat verstaan en ʼn hart wat vergewe. In al ons verbintenisse sal hierdie en ander soortgelyke dade help om die liefde in ons harte duidelik te maak.

President Gordon B. Hinckley (1910–2008) het opgemerk: “Liefde … is die pot goud aan die einde van die reënboog. Tog is dit meer as net die einde van die reënboog. Liefde is aan die begin ook, en daaruit ontstaan die skoonheid wat die hemel oorkoepel op ʼn stormagtige dag. Liefde is die sekuriteit waarvoor kinders ween, die begeerte van jeug, die gom wat huwelike aanmekaar hou en die smeermiddel wat verwoestende wrywing in die huis verhoed; dit is die vrede van ons goue jare, die sonlig van hoop wat deur die dood straal. Hoe ryk is diegene wat dit geniet in hulle verbintenisse met familie, vriende, kerk en bure.”2

Liefde die ware kern van die evangelie, die adellikste eienskap van die menslike siel. Liefde is die medisyne vir sukkelende families, siek gemeenskappe en nasies. Liefde is ʼn glimlag, ʼn wuif, ʼn vriendelike aanmerking, en ʼn kompliment. Liefde is opoffering, diens en selfloosheid.

Mans, wees lief vir julle vroue. Behandel hulle met waardigheid en waardering. Susters, wees lief vir julle mans. Behandel hulle met eer en aanmoediging.

Ouers, wees lief vir julle kinders. Bid vir hulle, leer hulle en getuig aan hulle. Kinders, wees lief vir julle ouers. Toon hulle respek, dankbaarheid en gehoorsaamheid.

Sonder die suiwer liefde van Christus, sê Mormon, “Is [ons] niks.”3 My gebed is dat ons Mormon se raad sal volg en tot “die Vader sal bid met al die energie van [ons] harte, dat [ons] vervul mag word met hierdie liefde, wat Hy gegee het aan almal wat ware volgelinge is van Sy Seun, Jesus Christus; sodat [ons] die seuns van God mag word; sodat wanneer Hy sal verskyn, ons soos Hy sal wees.”4

Onderrig uit Hierdie Boodskap

President Monson leer ons hoe belangrik dit is om ware Christelike liefde te demonstreer, veral in die huis. Oorweeg dit om diegene wat jy besoek, te vra om as ʼn familie bymekaar te kom en maniere te bespreek hoe hulle meer liefde aan mekaar kan toon. Jy mag hulle aanmoedig om een van hierdie idees te kies en ʼn plan te maak van hoe hulle as ʼn familie hierdie doel kan bereik. Byvoorbeeld, familielede mag dalk vir geleenthede soek om elke week ʼn geheime daad van diens vir ʼn ander familielid te doen. Jy mag hulle dalk vra om later daaroor na te dink oor hoe hulle strewe na hierdie doel, die liefde in hulle huis vermeerder het.