2017
ʼn Dissipel se Lewe
Augustus 2017


Eerste Presidensie-boodskap, Augustus 2017

ʼn Dissipel se Lewe

Dertig jaar gelede het ʼn jong universiteitstudent in Ghana genaamd Doe vir die eerste keer ʼn LDS-vergadersaal binnegegaan. ʼn Vriend het Doe uitgenooi om saam met haar te gaan, en Doe was nuuskierig om meer te weet oor die Kerk.

Die mense daar was so vriendelik en aangenaam dat sy nie kon help om te wonder “Watter soort kerk is dié?” nie.

Doe was so beïndruk dat sy besluit het om meer te leer oor die Kerk en sy mense wat met soveel vreugde gevul was. Toe sy dit begin doen het, het welmenende familie en vriende begin om haar om elke draai teen te staan. Hulle het vreeslike dinge oor die Kerk gesê en alles gedoen wat hulle kon om haar te ontmoedig.

Maar Doe het ʼn getuienis ontvang.

Sy het geloof gehad, en sy het die evangelie liefgehad, wat haar lewe met vreugde gevul het. En dus het sy die waters van die doop binnegegaan.

Daarna het sy haarself in studie en gebed verdiep. Sy het gevas en die invloed van die Heilige Gees in haar lewe nagestreef. As ʼn gevolg het Doe se getuienis en geloof sterker en dieper geword. Uiteindelik het sy besluit om ʼn voltydse sending vir die Here te dien.

Nadat sy van haar sending teruggekom het, het sy met ʼn teruggekeerde sendeling uitgegaan en getrou —dieselfde een wat haar jare vroeër gedoop het— en hulle is later in die Johannesburg Suid-Afrika Tempel geseël.

Baie jare het verbygegaan sedert Doe Kaku vir die eerste keer die vreugde van die evangelie van Jesus Christus ervaar het. Gedurende daardie tyd was die lewe nie altyd maklik vir haar nie. Sy het haar deel van hartseer en wanhoop, insluitend die verlies van twee kinders, verduur—die diepe droefheid van daardie ondervindings lê nog steeds swaar op haar hart.

Maar sy en haar man, Anthony, het gestreef om nader aan mekaar te kom en aan hulle geliefde Hemelse Vader, wat hulle met hulle hele hart liefhet.

Vandag, 30 jaar nadat sy die waters van die doop binnegegaan het, het Suster Kaku onlangs nóg ʼn voltydse sending voltooi—hierdie keer aan die sy van haar man, wat ʼn sendingpresident in Nigerië was.

Diegene wat Suster Kaku ken sê daar is iets spesiaals omtrent haar. Sy is stralend. Dit is moeilik om tyd saam met haar te spandeer sonder om self gelukkiger te voel.

Haar getuienis is seker: “Ek weet dat die Verlosser my sien as sy dogter en vriend” (sien Mosia 5:7; Ether 3:14) sê sy. “En ek leer en probeer so hard om ook sy vriend te wees—nie net deur wat ek sê nie maar ook deur wat ek doen.”

Ons is Dissipels

Suster Kaku se verhaal is soortgelyk aan dié van baie ander. Sy het ʼn begeerte gehad om die waarheid te wete te kom, sy het die prys betaal om geestelike lig te bekom, sy het haar liefde vir God en haar medemens bewys en terselfdertyd swaarkry en droefheid ervaar.

Ongeag die teenstand, ongeag die droefheid, het sy voortgebeur in geloof. En net so belangrik, sy het haar vreugde behou. Sy het nie net ʼn wyse gevind om die swaarkry van die lewe te verduur nie, maar om te floreer ten spyte daarvan!

Haar verhaal is soortgelyk aan joune en myne.

Ons reis is selde gelyk of sonder beproewing.

Ons het elkeen ons hartseer, ons teleurstellings en ons droefheid.

Ons mag selfs ontmoedig en somtyds oorweldig voel.

Maar diegene wat ʼn dissipel se lewe leef —wat getrou bly en vorentoe beur in geloof; wat God vertrou en sy gebooie onderhou;1 wat die evangelie dag vir dag en uur vir uur leef; wat Christelike diens lewer aan diegene om hulle, een goeie daad op ʼn slag— is diegene wie se klein handelinge dikwels ʼn groot verskil maak.

Diegene wat ʼn bietjie meer mensliewend is, ʼn bietjie meer vergewensgesind en ʼn bietjie meer barmhartig is, is die barmhartiges wat barmhartigheid sal ontvang.2 Diegene wat hierdie wêreld ʼn beter plek maak, een besorgde en liefdevolle daad op ʼn slag, en wat streef om die geseënde, bevredigende en vreedsame lewe van ʼn dissipel van Jesus Christus te lei, is diegene wat uiteindelik vreugde sal vind.

Hulle sal weet dat die liefde van God, wat hom ver en wyd uitstort in die harte van die kinders van mense … die begeerlikste bo alle dinge is … en die verblydendste vir die siel.”3