Skrifture
Leer en Verbonde 76


Afdeling 76

’n Visioen gegee aan Joseph Smith die Profeet en Sidney Rigdon, te Hiram, Ohio, 16 Februarie 1832. As voorwoord tot die verslag van hierdie visioen, verklaar Joseph Smith se geskiedenis: “By my terugkeer van die Amherst-konferensie, het ek voortgegaan met die vertaling van die Skrifture. Uit verskeie openbarings wat ontvang is, was dit duidelik dat vele belangrike punte rakende die heil van die mens uit die Bybel geneem is, of verlore geraak het voor dit saamgestel is. Dit was duidelik uit die waarhede wat oorgebly het, dat indien God elkeen vergoed het ooreenkomstig die dade verrig in die liggaam, die term ‘Hemel,’ met verwysing na die Heiliges se ewige tuiste, meer as een koninkryk moet insluit. In opvolging daarvan, … terwyl ons die Evangelie van Johannes vertaal het, het ek en Ouderling Rigdon die volgende visioen gesien.” Hierdie visioen is gegee gedurende die tyd wat die Profeet Johannes 5:29 vertaal het.

1–4, Die Here is God; 5–10, Die verborgenhede van die koninkryk sal geopenbaar word aan al die getroues; 11–17, Almal sal te voorskyn kom in die opstanding van die regverdiges of die onregverdiges; 18–24, Die inwoners van vele wêrelde is gebore seuns en dogters van God deur die Versoening van Jesus Christus; 25–29, ’n Engel van God het geval en het die duiwel geword; 30–49, Seuns van die verderf ly ewige verdoemenis; alle ander verkry ’n mate van heil; 50–70, Die heerlikheid en beloning van verheerlikte wesens in die selestiale koninkryk word beskryf; 71–80, Diegene wat die terrestriale koninkryk sal beërwe word beskryf; 81–113, Die status van diegene in die telestiale, terrestriale, en selestiale heerlikhede word verduidelik; 114–119, Die getroues mag die verborgenhede van God se koninkryk sien en begryp deur die mag van die Heilige Gees.

1 Hoor, o julle hemele, en neig die oor, o aarde, en verbly julle jul inwoners daarvan, want die Here is God en buiten Hom is daar geen Saligmaker nie.

2 Groot is sy wysheid, wonderbaarlik is sy weë, en die omvang van sy dade kan niemand bepaal nie.

3 Sy doeleindes faal nie, nóg is daar enigeen wat sy hand kan keer.

4 Van ewigheid tot ewigheid is Hy dieselfde, en sy jare faal nooit.

5 Want so sê die Here—Ek, die Here, is barmhartig en goedertierend teenoor diegene wat My vrees, en skep behae daarin om diegene te eer wat My dien in regverdigheid en in waarheid tot die einde.

6 Groot sal hulle beloning wees en ewig sal hul heerlikheid wees.

7 En aan hulle sal Ek alle verborgenhede openbaar, ja al die bedekte verborgenhede van my koninkryk van dae van ouds, en vir die eeue wat kom, sal Ek aan hulle al die goeie welbehae van my wil aangaande alle dinge rakende my koninkryk bekendmaak.

8 Ja, selfs die wonders van die ewigheid sal hulle ken, en dinge wat moet kom sal Ek hulle toon, selfs die dinge van vele geslagte.

9 En hulle wysheid sal groot wees, en hulle begrip strek tot die hemel; en voor hulle sal die wysheid van die wyses vergaan, en die begrip van die verstandiges sal tot niet gaan.

10 Want deur my Gees sal Ek hulle verlig, en deur my mag sal Ek aan hulle die verborgenhede van my wil bekendmaak—ja, selfs daardie dinge wat die oog nie gesien het nie, nóg die oor gehoor het, en nog nie die hart van die mens binnegedring het nie.

11 Ons, Joseph Smith, Jr., en Sidney Rigdon, was in die Gees op die sestiende dag van Februarie, in die jaar van ons Here een duisend agt honderd twee en dertig—

12 Deur die mag van die Gees is ons geopen en ons verstand verlig, om die dinge van God te sien en te verstaan.

13 En wel daardie dinge wat was vanaf die begin voor die wêreld was, wat geordineer is deur die Vader, deur sy Eniggebore Seun, wat in die boesem van die Vader was, ja vanaf die begin;

14 Van wie ons getuienis lewer; en die verslag wat ons lewer is die volheid van die evangelie van Jesus Christus, wat die Seun is wat ons gesien het en met wie ons gespreek het in die hemelse visioen.

15 Want terwyl ons besig was om die vertaalwerk te doen, waartoe die Here ons aangestel het, het ons gekom by die nege en twintigste vers van die vyfde hoofstuk van Johannes, wat as volg aan ons gegee is—

16 Sprekende van die opstanding van die dode, aangaande diegene wat die stem van die Seun van die Mens sal hoor:

17 En sal te voorskyn kom; hulle wat goed gedoen het, tot die opstanding van die regverdiges; en hulle wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die onregverdiges.

18 Nou het dit ons laat wonder, want dit is aan ons gegee deur die Gees.

19 En terwyl ons bepeins het oor hierdie dinge, het die Here die oë van ons verstand aangeraak en hulle is geopen, en die heerlikheid van die Here het rondom geskyn.

20 En ons het die heerlikheid van die Seun aanskou, aan die regterhand van die Vader, en van sy volheid ontvang;

21 En het die heilige engele gesien, en hulle wat geheilig is voor sy troon, wat God aanbid, en die Lam, wat hom vir ewig en ewig aanbid.

22 En nou, na die vele getuienisse wat van Hom gegee is, dit is die getuienis, laaste van almal, wat ons van Hom gee: Dat Hy leef!

23 Want ons het Hom gesien, en wel aan die regterhand van God: en ons het die stem gehoor wat getuienis lewer dat Hy die Eniggeborene van die Vader is—

24 Dat deur Hom, en deur middel van Hom, en van Hom die wêrelde geskape word en was, en die inwoners daarvan is gebore seuns en dogters vir God.

25 En dit het ons ook gesien, en lewer getuienis dat ’n engel van God wat gesag gehad het in die teenwoordigheid van God, wat gerebelleer het teen die Eniggebore Seun vir wie die Vader liefgehad het en wat in die boesem van die Vader was, neergewerp is vanuit die teenwoordigheid van God en die Seun,

26 En is Verderf genoem, want die hemele het geween oor hom—hy was Lucifer, ’n seun van die daeraad.

27 En ons het aanskou, en sien, hy is gevalle! Is gevalle, ja ’n seun van die daeraad!

28 En terwyl ons nog in die Gees was, het die Here ons gebied dat ons die visioen moes neerskryf; want ons het Satan aanskou, daardie ou slang, naamlik die duiwel, wat gerebelleer het teen God, en gesoek het om die koninkryk van ons God en sy Christus te neem—

29 Daarom, hy voer oorlog teen die heiliges van God, en omsingel hulle rondomheen.

30 En ons het ’n visioen gesien van die lyding van diegene teen wie hy oorlog gevoer en oorwin het, want aldus het die stem van die Here na ons gekom:

31 So sê die Here, aangaande al diegene wat my mag ken, en deelgenote gemaak is daarvan, en toegelaat het dat hulle oorwin word deur die mag van die duiwel, en om die waarheid te verloën en my mag te minag—

32 Hulle is dié wat die seuns van die verderf is, van wie Ek sê dat dit beter vir hulle sou gewees het as hulle nooit gebore was nie;

33 Want hulle is vate van toorn, verdoem om die toorn van God te ly, met die duiwel en al sy engele in ewigheid;

34 Aangaande wie Ek gesê het daar geen vergifnis in hierdie wêreld is nie, nóg in die toekomende wêreld—

35 Want hulle het die Heilige Gees verloën na dit ontvang is, en die Eniggebore Seun van die Vader verloën het, en Hom tot hulself gekruisig het en Hom openlik beskaam het.

36 Dit is hulle wat sal weggaan in die poel van vuur en swael, saam met die duiwel en sy engele—

37 En die enigstes oor wie die tweede dood enige mag sal hê;

38 Ja, voorwaar, die enigstes wat nie verlos sal word in die bepaalde tyd van die Here nie, na die lyding van sy toorn.

39 Want al die res sal voortgebring word deur die opstanding van die dode, deur die triomf en die heerlikheid van die Lam, wat geslag is, wat in die boesem was van die Vader voordat die wêrelde geskape is.

40 En dit is die evangelie, die blye tydings, wat die stem vanuit die hemele getuienis gelewer het aan ons—

41 Dat Hy in die wêreld ingekom het, naamlik Jesus, om gekruisig te word vir die wêreld, en om die sondes te dra van die wêreld, en om die wêreld te heilig, en om dit te reinig van alle ongeregtigheid.

42 Dat deur Hom almal gered mag word wat die Vader onder sy mag geplaas het en deur Hom gemaak is;

43 Wat die Vader verheerlik, en al die werke van sy hande red, behalwe daardie seuns van die verderf wat die Seun verloën nadat die Vader Hom geopenbaar het.

44 Daarom, Hy red almal behalwe hulle—hulle sal weggaan na ewigdurende straf, wat eindelose straf is, wat ewige straf is, om te heers met die duiwel en sy engele in ewigheid, waar hulle wurm nie sterf, en die vuur nie geblus word nie, wat hulle pyniging is—

45 En die einde daarvan, nóg die plek daarvan, nóg hulle pyniging, weet geen mens nie;

46 Nóg was dit geopenbaar, nóg is, nóg sal geopenbaar word aan die mens, behalwe aan hulle wat deelgenote daarvan gemaak word;

47 Nietemin, Ek, die Here, toon dit deur ’n visioen aan vele, maar sluit dit weer dadelik;

48 Daarom, die einde, die wydte, die hoogte, die diepte, en die ellende daarvan, verstaan hulle nie, nóg enige mens, behalwe diegene wat geordineer is tot hierdie veroordeling.

49 En ons het die stem gehoor wat sê: Skryf die visioen neer, want sien, dit is die einde van die visioen van die lyding van die goddelose.

50 En weer lewer ons getuienis—want ons het gesien en gehoor, en dit is die getuienis van die evangelie van Christus aangaande hulle wat sal voortkom in die opstanding van die regverdiges—

51 Dit is hulle wat die getuienis van Jesus ontvang het, en geglo het in sy Naam en gedoop is volgens die wyse van sy begrafnis, en begrawe is in die water in sy Naam, en dit ooreenkomstig die gebod wat Hy gegee het—

52 Sodat deur die onderhouding van die gebooie hulle gewas en gereinig mag word van al hulle sondes, en die Heilige Gees ontvang deur die oplegging van hande deur hom wat geordineer is en verseël is tot hierdie mag;

53 En wat deur geloof oorwin, en verseël word deur die Heilige Gees van belofte, wat die Vader uitstort oor al diegene wat regverdig en getrou is.

54 Dit is hulle wat die kerk van die Eersgeborene is.

55 Dit is hulle in wie se hande die Vader alle dinge gegee het—

56 Dit is hulle wat priesters en konings is, wat ontvang het van sy volheid en van sy heerlikheid;

57 En is priesters van die Allerhoogste, volgens die orde van Melgisédek, wat volgens die orde van Henog was, wat volgens die orde van die Eniggebore Seun was.

58 Daarom, soos dit geskryf is, hulle is gode, naamlik die seuns van God

59 Daarom, alle dinge is hulle s’n, hetsy lewe of dood, of teenwoordige dinge, of toekomende dinge, alles behoort aan hulle en hulle behoort aan Christus, en Christus behoort aan God.

60 En hulle sal alle dinge oorwin.

61 Daarom, laat niemand roem in die mens nie, maar laat hom eerder roem in God, wat alle vyande onder sy voete sal onderwerp.

62 Hulle sal woon in die teenwoordigheid van God en sy Christus vir ewig en ewig.

63 Dit is hulle vir wie Hy saam met Hom sal bring wanneer Hy sal kom in die wolke van die hemel om op die aarde te heers oor sy volk.

64 Dit is hulle wat sal deel hê aan die eerste opstanding.

65 Dit is hulle wat te voorskyn sal kom in die opstanding van die regverdiges.

66 Dit is hulle wat na Berg Sion moet kom, en na die stad van die lewende God, die hemelse plek, die heiligste van alles.

67 Dit is hulle wat gekom het na ’n ontelbare skare engele, na die algemene samekoms en die kerk van Henog, en van die Eersgeborene.

68 Dit is hulle wie se name geskryf is in die hemel, waar God en Christus die regter is van almal.

69 Dit is hulle wat regverdige mense is wat vervolmaak is deur Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, wat hierdie volmaakte versoening teweeggebring het deur die vergieting van sy eie bloed.

70 Dit is hulle wie se liggame selestiaal is, wie se heerlikheid dié van die son is, naamlik die heerlikheid van God, die hoogste van almal, wie se heerlikheid, die son van die uitspansel, beskryf word as ’n tipe.

71 En verder, ons het die terrestriale wêreld gesien, en kyk en sien, dit is hulle wat van die terrestriale is, wie se heerlikheid verskil van dit van die kerk van die Eersgeborene wat die volheid ontvang het van die Vader, net soos die maan verskil van die son in die uitspansel.

72 Kyk, dit is hulle wat gesterf het sonder die wet;

73 En ook hulle wat die geeste is van mense wat in die gevangenis gehou word, vir wie die Seun besoek het, en die evangelie aan hulle gepreek het, sodat hulle geoordeel mag word volgens mense in die vlees;

74 Wat nie die getuienis van Jesus in die vlees aangeneem het nie, maar dit daarna aangeneem het.

75 Dit is hulle wat die eerbare mense van die aarde is, wat verblind is deur die listigheid van die mens.

76 Dit is hulle wat van sy heerlikheid ontvang, maar nie van sy volheid nie.

77 Dit is hulle wat die teenwoordigheid van die Seun ontvang, maar nie van die volheid van die Vader nie.

78 Daarom, hulle is terrestriale liggame, en nie selestiale liggame nie, en verskil in heerlikheid soos die maan van die son verskil.

79 Dit is hulle wat nie vasstaan in die getuienis van Jesus nie; daarom verkry hulle nie die kroon oor die koninkryk van ons God nie.

80 En nou, dit is die einde van die visioen wat ons gesien het van die terrestriale, wat die Here ons gebied het om te skryf terwyl ons nog in die gees was.

81 En verder, ons het die heerlikheid van die telestiale gesien, welke heerlikheid dit van die mindere is, net soos die heerlikheid van die sterre verskil van die heerlikheid van die maan in die uitspansel.

82 Dit is hulle wat nie die evangelie van Christus ontvang het nie, nóg die getuienis van Jesus.

83 Dit is hulle wat nie die Heilige Gees verloën nie.

84 Dit is hulle wat neergewerp word in die hel.

85 Dit is hulle wat nie verlos sal word van die duiwel tot die laaste opstanding nie, totdat die Here, naamlik Christus die Lam, sy werk sal voltooi nie.

86 Dit is hulle wat nie van sy volheid ontvang in die ewige wêreld nie, maar van die Heilige Gees deur die bediening van die terrestriale;

87 En die terrestriale deur die bediening van die selestiale.

88 En ook, die telestiale ontvang dit deur die bediening van engele wat aangestel is om hulle te dien, of wat aangestel is om dienende geeste te wees vir hulle; want hulle sal erfgename wees van heil.

89 En dus het ons gesien, in die hemelse visioen, die heerlikheid van die telestiale, wat alle begrip oortref;

90 En geen mens weet dit nie, behalwe hom aan wie God dit geopenbaar het.

91 En dus het ons die heerlikheid van die terrestriale gesien wat in alle dinge die heerlikheid van die telestiale oortref, naamlik in heerlikheid, en in mag, en in heerskappy.

92 En dus het ons die heerlikheid van die selestiale gesien, wat in alle dinge oortref—waar God, naamlik die Vader, heers op sy troon vir ewig en ewig;

93 Voor wie se troon alle dinge neerbuig in nederige eerbied, en hom verheerlik vir ewig en ewig.

94 Hulle wat woon in sy teenwoordigheid is die kerk van die Eersgeborene; en hulle sien soos hulle gesien word, en ken soos hulle geken word, omdat hulle van sy volheid en van sy genade ontvang het;

95 En hy maak hulle gelyk in mag, en in krag, en in heerskappy.

96 En die heerlikheid van die selestiale is een, net soos die heerlikheid van die son een is.

97 En die heerlikheid van die terrestriale is een, net soos die heerlikheid van die maan een is.

98 En die heerlikheid van die telestiale is een, net soos die heerlikheid van die sterre een is; want soos een ster verskil van ’n ander in heerlikheid, net so verskil die een van die ander in heerlikheid in die telestiale wêreld;

99 Want dit is hulle wat van Paulus is, en van Apollos, en van Céfas.

100 Dit is hulle wat sê hulle is van een en sommiges van ’n ander—sommiges van Christus en sommiges van Johannes, en sommiges van Moses, en sommiges van Elías, en sommiges van Esaias, en sommiges van Jesaja, en sommiges van Henog;

101 Maar nie die evangelie ontvang het nie, nóg die getuienis van Jesus, nóg die profete, nóg die ewigdurende verbond.

102 En uiteindelik, dit is hulle almal wat nie saam met die heiliges versamel sal word om opgeneem te word in die kerk van die Eersgeborene, en ontvang te word in die wolk nie.

103 Dit is hulle wat leuenaars, en towenaars, en egbrekers, en hoereerders is, en wie ook al ’n leuen liefhet en lieg.

104 Dit is hulle wat die toorn van God ly op die aarde.

105 Dit is hulle wat die wraak van die ewige vuur ly.

106 Dit is hulle wat neergewerp is in die hel en die toorn van Almagtige God ly, tot die volheid van tye, wanneer Christus alle vyande onder sy voete onderwerp het, en sy werk sal vervolmaak het;

107 Wanneer hy die koninkryk sal oorhandig, en dit aan die Vader aanbied, vlekkeloos, en sê: Ek het oorwin en die wynpers alleen getrap, naamlik die wynpers van die felheid van die toorn van die Almagtige God.

108 Dan sal Hy gekroon word met die kroon van sy heerlikheid, om te sit op die troon van sy mag om te heers vir ewig en ewig.

109 Maar kyk, en sien, ons het die heerlikheid en die inwoners van die telestiale wêreld gesien, dat hulle so talryk was soos die sterre in die uitspansel van die hemel, of soos die sand op die seestrand;

110 En die stem van die Here gehoor wat sê: Al hierdie sal die knie buig, en elke tong sal bely aan hom wat op die troon sit vir ewig en ewig.

111 Want hulle sal geoordeel word volgens hulle werke, en elke mens sal volgens sy eie werke ontvang, sy eie heerskappy, in die wonings wat voorberei is;

112 En hulle sal diensknegte wees van die Allerhoogste; maar waar God en Christus woon, kan hulle nie kom nie, wêrelde sonder einde.

113 Dit is die einde van die visioen wat ons gesien het, wat ons gebied is om te skryf terwyl ons nog in die Gees was.

114 Maar groot en wonderbaarlik is die werke van die Here, en die verborgenhede van sy koninkryk wat Hy aan ons getoon het, wat alle begrip oortref in heerlikheid, en in mag en in heerskappy;

115 Wat Hy ons gebied het ons nie moes skryf terwyl ons nog in die gees was nie, en is nie toelaatbaar vir die mens om te uiter nie;

116 Nóg is die mens in staat om hulle bekend te maak, want hulle kan net gesien en begryp word deur die mag van die Heilige Gees, wat God skenk aan diegene wat Hom liefhet, en hulleself voor Hom reinig;

117 Aan wie Hy hierdie voorreg gun om vir hulleself te sien en te weet;

118 Dat deur die mag en openbaring van die Gees, terwyl in die vlees, hulle in staat is om sy teenwoordigheid in die wêreld van heerlikheid te verduur.

119 En aan God en die Lam kom heerlikheid toe, en eer, en heerskappy vir ewig en ewig. Amen.