Skrifture
Moses 6


Hoofstuk 6

(November–Desember 1830)

Adam se saad hou ’n gedenkboek—Sy regverdige afstammelinge predik bekering—God openbaar Homself aan Henog—Henog predik die evangelie—Die heilsplan is aan Adam geopenbaar—Hy het die doop en die priesterskap ontvang.

1 En Adam het ag geslaan op die stem van God, en het ’n beroep op sy seuns gedoen om te bekeer.

2 En Adam het sy vrou weer beken, en sy het ’n seun gebaar, en hy het sy naam Set genoem. En Adam het die Naam van God verheerlik; want hy het gesê: God het my ’n ander saad gegee, in die plek van Abel, vir wie Kain gedood het.

3 En God het homself aan Set geopenbaar, en hy het nie gerebelleer nie, maar het ’n aanvaarbare offerande geoffer, soos sy broer Abel. En aan hom is ook ’n seun gebore, en hy het sy naam Enos genoem.

4 En toe het hierdie mense begin om die Naam van die Here aan te roep, en die Here het hulle geseën;

5 En ’n gedenkboek is gehou, waarin aangeteken is, in die taal van Adam, want dit is gegee aan soveel as wat God aangeroep het om deur die gees van inspirasie te skryf;

6 En deur hulle is hulle kinders geleer om te lees en te skryf, omdat hulle ’n taal gehad het wat suiwer en onbesmet was.

7 Nou, hierdie selfde Priesterskap wat aan die begin was, sal ook aan die einde van die wêreld wees.

8 Nou het Adam hierdie profesie uitgespreek soos hy deur die Heilige Gees geïnspireer is, en ’n geslagsregister is gehou van die kinders van God. En dit was die boek van die geslagte van Adam, wat sê: Op die dag wat God die mens geskape het, na die gelykenis van God het Hy hom gemaak;

9 Na die beeld van sy eie liggaam, man en vrou, het Hy hulle geskape, en hulle geseën, en hulle naam Adam genoem, op die dag wat hulle geskape is en lewende siele geword het in die land op die voetbank van God.

10 En Adam het eenhonderd en dertig jaar geleef, en ’n seun na sy gelykenis verwek, na sy eie beeld, en het sy naam Set genoem.

11 En die dae van Adam, nadat hy Set verwek het, was agthonderd jaar en hy het vele seuns en dogters verwek;

12 En al die dae wat Adam geleef het was negehonderd en dertig jaar, en hy het gesterf.

13 Set het eenhonderd en vyf jaar geleef, en Enos verwek, en geprofeteer in al sy dae, en het sy seun Enos die weë van die God geleer; daarom het Enos ook geprofeteer.

14 En Set het gelewe, nadat hy Enos verwek het, agthonderd en sewe jaar, en het vele seuns en dogters verwek.

15 En die kinders van mense was talryk op die hele aangesig van die land. En in daardie dae het Satan groot heerskappy onder mense gehad, en gewoed in hulle harte; en van toe kom oorloë en bloedvergieting; en ’n man se hand was teen sy eie broer, om die dood toe te dien, vanweë geheime werke, soekende na mag.

16 Al die dae van Set was negehonderd en twaalf jaar en hy het gesterf.

17 En Enos het negentig jaar gelewe, en Kenan verwek. En Enos en die oorblyfsel van die volk van God het uit die land wat Sjulon genoem is, getrek, en in ’n land van belofte gewoon, wat hy na sy eie seun vernoem het, wat hy Kenan genoem het.

18 En Enos het gelewe, nadat hy Kenan verwek het, agt honderd en vyftien jaar, en vele seuns en dogters verwek. En al die dae van Enos was negehonderd en vyf jaar, en hy het gesterwe.

19 En Kenan het sewentig jaar gelewe, en Mahalálel verwek; en Kenan het gelewe nadat hy Mahalálel verwek het, agthonderd en veertig jaar, en seuns en dogters verwek. En al die dae van Kenan was negehonderd en tien jaar, en hy het gesterwe.

20 En Mahalálel het vyf en sestig jaar gelewe, en Jered verwek; en Mahalálel het gelewe, nadat hy Jered verwek het, agthonderd en dertig jaar, en seuns en dogters verwek. En al die dae van Mahalálel was agthonderd vyf en negentig jaar, en hy het gesterwe.

21 En Jered het gelewe eenhonderd twee en sestig jaar, en Henog verwek; en Jered het gelewe, nadat hy Henog verwek het, agthonderd jaar, en seuns en dogters verwek. En Jered het Henog geleer volgens al die weë van God.

22 En dit is die geslagsregister van die seuns van Adam, wat die seun van God was, met wie God self gesprek gevoer het.

23 En hulle was predikers van regverdigheid, en het gespreek en geprofeteer, en ’n beroep gedoen op alle mense, oral, om te bekeer; en geloof is aan die kinders van mense geleer.

24 En dit het gebeur dat al die dae van Jered negehonderd twee en sestig jaar was, en hy het gesterwe.

25 En Henog het vyf en sestig jaar gelewe, en Metúsalag verwek.

26 En dit het gebeur dat Henog gereis het in die land, onder die volk; en terwyl hy gereis het, het die Gees van God uit die hemel neergedaal, en op hom vertoef.

27 En hy het ’n stem vanuit die hemel gehoor wat sê: Henog, my seun, profeteer vir hierdie volk, en sê vir hulle—Bekeer, want so sê die Here: Ek is vertoornd op hierdie volk, en my verwoede toorn is ontvlam teen hulle; want hulle harte het hard geword, en hulle ore is traag om te hoor, en hulle kan nie ver sien nie;

28 En vir hierdie vele geslagte, sedert die dag wat Ek hulle geskape het, het hulle afgedwaal, en het My verloën, en het hulle eie raad in die duisternis gevolg; en in hul eie gruwels het hulle moord beplan, en het nie die gebooie onderhou, wat Ek aan hulle vader, Adam gegee het nie.

29 Daarom, hulle het vals gesweer, en, deur hulle ede, het hulle die dood oor hulleself gebring; en ’n hel het Ek vir hulle voorberei, indien hulle nie bekeer nie;

30 En dit is ’n dekreet, wat Ek uitgestuur het in die begin van die wêreld, van my eie mond, vanaf die grondlegging daarvan, en by monde van my diensknegte, julle vaders, het Ek dit uitgevaardig, soos dit uitgestuur sal word in die wêreld, tot die eindes daarvan.

31 En toe Henog hierdie woorde gehoor het, het hy homself na die aarde neergebuig, voor die Here, en voor die Here gespreek en gesê: Waarom is dit dat ek guns gevind het in u oë, en ek is slegs ’n jongeling, en al die mense haat my; want ek is stadig van spraak; waarom is ek u dienskneg?

32 En die Here het vir Henog gesê: Gaan uit en doen soos Ek jou gebied het, en niemand sal jou deurboor nie. Open jou mond, en dit sal gevul word, en Ek sal jou woorde gee, want alle vlees is in my hande, en Ek sal doen soos Ek goeddink.

33 Sê vir hierdie volk: Kies julle hierdie dag om die Here God wat julle gemaak het, te dien.

34 Kyk, my Gees is op julle daarom sal Ek al my woorde regverdig; en die berge sal voor julle vlug, en die riviere sal afwyk van hulle koers; en julle sal in My woon, en Ek in julle; daarom, wandel met My.

35 En die Here het met Henog gespreek, en vir hom gesê: Salf jou oë met klei, en was hulle, en jy sal sien. En hy het so gedoen.

36 En hy het die geeste aanskou wat God geskape het; en hy het ook dinge aanskou wat nie sigbaar was vir die natuurlike oog nie; en vandaar kom die gesegde oral in die land: ’n Siener het die Here opgerig vir sy volk.

37 En dit het gebeur dat Henog uitgegaan het in die land, onder die volk, terwyl hy op die berge en die hoë plekke staan, en geroep het met ’n luide stem, en getuig het teen hulle werke, en almal het aanstoot geneem vanweë hom.

38 En hulle het uitgekom om hom te hoor, op die hoë plekke, en vir die tentbewaarders gesê: Vertoef julle hier en versorg die tente, terwyl ons daarheen gaan om die siener te aanskou, want hy profeteer, en daar is ’n vreemde ding in die land; ’n wilde man het onder ons gekom.

39 En dit het gebeur dat toe hulle hom hoor, het niemand hande aan hom geslaan nie; want vrees het oor almal gekom wat hom gehoor het; want hy het met God gewandel.

40 En daar het ’n man na hom gekom wie se naam Mahija was, en vir hom gesê: Vertel ons eerlikwaar wie u is, en vanwaar u kom?

41 En hy het vir hulle gesê: Ek het uit die land Kenan gekom, die land van my vaders, ’n land van regverdigheid tot hierdie dag. En my vader het my in al die weë van God geleer.

42 En dit het gebeur, terwyl ek van die land Kenan gereis het, by die oostelike see, het ek ’n visioen aanskou; en kyk, die hemele het ek gesien, en die Here het met my gespreek, en my ’n gebod gegee; daarom, om hierdie rede, om die gebod te onderhou, spreek ek hierdie woorde.

43 En Henog het sy toespraak voortgesit, en gesê: Die Here wat met my gespreek het, Hy is die God van die hemel, en hy is my God, en julle God, en julle is my broers, en waarom volg julle jul eie raad, en verloën die God van die hemel?

44 Die hemele het Hy gemaak; die aarde is sy voetbank; en die fondament daarvan is syne. Kyk, Hy het dit gelê, ’n leërskare van mense het Hy ingebring op die aangesig daarvan.

45 En die dood het oor ons vaders gekom; nietemin ons ken hulle, en kan nie ontken nie, en wel die eerste van almal wat ons ken, naamlik Adam.

46 Want ’n gedenkboek het ons onder ons geskryf, ooreenkomstig die patroon gegee deur die vinger van God; en dit is in ons eie taal gegee.

47 En terwyl Henog die woorde van God gespreek het, het die volk gebewe, en kon nie sy teenwoordigheid verduur nie.

48 En hy het vir hulle gesê: Omdat Adam geval het, is ons; en deur sy val het die dood gekom; en ons word deelgenote van ellende en wee.

49 Kyk, Satan het onder die kinders van mense gekom, en versoek hulle om hom te aanbid; en die mens het vleeslik, wellustig en duiwels geword; en word van die teenwoordigheid van God uitgesluit.

50 Maar God het aan ons vaders bekendgemaak dat alle mense moet bekeer.

51 En hy het ons vader Adam met sy eie stem aangeroep, en gesê: Ek is God; Ek het die wêreld gemaak, en mense voor hulle in die vlees was.

52 En Hy het ook vir hom gesê: Indien jy na My keer, en ag slaan op my stem, en glo, en bekeer van al jou oortredings, en gedoop word, en wel in water, in die Naam van my Eniggebore Seun, wat vol genade en waarheid is, wat Jesus Christus is, die enigste Naam wat onder die hemel gegee sal word, waardeur heil na die kinders van mense sal kom, sal jy die gawe van die Heilige Gees ontvang, en alle dinge vra in sy Naam, en wat jy ook al sal vra, dit sal jou gegee word.

53 En ons vader Adam het met die Here gespreek, en gesê: Waarom is dit dat die mens moet bekeer en in water gedoop word? En die Here het vir Adam gesê: Kyk, Ek het jou jou oortreding in die Tuin van Eden vergewe.

54 Vandaar kom die gesegde oral onder die mense, dat die Seun van God versoening gedoen het vir die oorspronklike skuld waarin die sondes van die ouers nie verantwoord word op die hoofde van die kinders nie, want hulle is rein vanaf die grondlegging van die wêreld.

55 En die Here het met Adam gespreek, en gesê: In soverre jou kinders in sonde verwek word, net so wanneer hulle begin om op te groei, verwek sonde in hulle harte, en hulle proe die bittere, sodat hulle mag weet om die goeie te waardeer.

56 En dit word aan hulle gegee om die goeie van die bose te onderskei; daarom is hulle vry om te handel na hul eie goeddunke, en Ek het aan jou ’n ander wet en gebod gegee.

57 Daarom, leer dit aan julle kinders, dat alle mense, oraloor, moet bekeer, andersins kan hulle geensins die koninkryk van God beërwe nie, want geen onrein ding kan daar woon, of woon in sy teenwoordigheid nie; want, in die taal van Adam, Man van Heiligheid is sy Naam, en die Naam van sy Eniggebore is die Seun van die Mens, naamlik Jesus Christus, ’n regverdige Regter, wat in die middelpunt van tyd sal kom.

58 Daarom gee Ek aan jou ’n gebod, om hierdie dinge vryelik aan julle kinders te leer, en sê:

59 Dat vanweë oortreding kom die val, welke val die dood bring, en in soverre jy in die wêreld gebore is deur water en deur bloed, en die gees, wat Ek gemaak het, en so uit die stof ’n lewende siel geword het, net so moet jy weer in die koninkryk van die hemel gebore word, deur water, en deur die Gees, en gereinig word deur bloed, naamlik die bloed van my Eniggeborene sodat jy geheilig mag word van alle sonde, en die woorde van die ewige lewe geniet in hierdie wêreld en die ewige lewe in die komende wêreld, naamlik onsterflike heerlikheid.

60 Want deur die water onderhou jy die gebod; deur die Gees is jy geregverdig, en deur die bloed is jy geheilig;

61 Daarom word dit aan jou gegee om in jou te woon; die getuie van die hemel; die Trooster; die vredige dinge van onsterflike heerlikheid; die waarheid van alle dinge; dit wat alle dinge verkwik; wat alle dinge verlewendig; dit wat alle dinge weet en alle mag het ooreenkomstig wysheid, barmhartigheid, waarheid, geregtigheid en oordeel.

62 En nou, kyk, Ek sê vir jou: Dit is die heilsplan vir alle mense, deur die bloed van my Eniggeborene, wat sal kom in die middelpunt van tyd.

63 En kyk, alle dinge het hulle gelykenis, en alle dinge is geskape en gemaak om getuienis van My te lewer, beide dinge wat stoflik is en dinge wat geestelik is; dinge wat bo in die hemele is, dinge wat op die aarde is, en dinge wat onder die aarde is, beide bo en benede: alle dinge lewer getuienis van My.

64 En dit het gebeur, nadat die Here met Adam gespreek het, ons vader, dat Adam tot die Here geroep het, en hy is weggevoer deur die Gees van die Here, en is in die water ingeneem, en is onder die water gelê, en is uit die water uitgebring.

65 En aldus is hy gedoop, en die Gees van God het op hom neergedaal, en aldus is hy uit die Gees gebore, en is verkwik in die innerlike mens.

66 En hy het ’n stem uit die hemel gehoor wat sê: Jy is met vuur gedoop, en met die Heilige Gees. Dit is die getuie van die Vader, en die Seun, van nou af en vir ewig;

67 En jy is na die orde van Hom wat sonder begin van dae of einde van jare is, van alle ewigheid tot alle ewigheid.

68 Kyk, jy is een in My, ’n seun van God; en aldus kan almal my seuns word. Amen.